6889_20140222121340783_ext_large

Nog ’n vermaaklike Afrikaanse fliek begin vandeesweek. In Konfetti (10T) staan die Afrikaanse Jean (Semi-soet se Nico Panagio) en die Joodse Sheryl (Casey B. Dolan) op trou. Jean se deurmekaar strooijonker is Lukas (Swartwater se Louw Venter, wat ook Konfetti se draaiboek geskryf het) wat eintlik nog verlief is op Sheryl, sy eks. Daar is spanning tussen die bruidspaar se families, Lukas het vergeet om musiek vir die onthaal te reël en die familie-trouring is nog op pad, want van Sheryl se familielede het verdwaal. Gaan Jean en Sheryl ooit tot trou kom?

Laetitia Pople van Die Burger gee die fliek drie sterre en beskryf dit as “ ’n ander tipe dier wat nie deur die hoepels van die resepmatige (romantiese komedie-) genre-voorskrifte spring nie. Dit is klein, skerp, komiese oomblikke op die kantlyn wat die momentum bou en jou laat skater.” Sy sonder ook Louw se spel uit as “deurlopend snaaks dog sielvol eg”. Die Cape Times se Terri Dunbar-Curran gee dit ook drie sterre. “Die fliek het ’n aangename, informele gevoel wat jou laat omgee oor wat met Lukas en die res gebeur,” skryf sy. “As jy afgesit is deur Suid-Afrikaanse films, probeer dié een. Dis pret, dikwels laf en kos baie minder as die meeste trougeskenke.”

Die eerste van twee nuwe Hercules-flieks begin vandeesweek. Die spierpaleis Kellan Lutz (Twilight) speel die Griekse mitologiese figuur in The Legend of Hercules (13G), wat vertel hoe dié halfgod ’n beroemde kryger en held geword het. Die koning van die gode, Zeus, verlei koningin Alcmene (Roxanne McKee, Dany se diensmeisie Doreah in Game of Thrones). Haar man, die wrede koning Amphitryon (Scott Adkins van The Bourne Ultimatum), betrap hulle, maar sien Zeus aan vir ’n sterfling en haat daarom die seun, Hercules, aan wie Alcmene die lewe skenk. Twintig jaar later is Hercules verlief op die prinses Hebe (Gaia Weiss), maar Amphitryon beveel dat sy met Hercules se broer, Iphicles (Liam Garrigan), moet trou en stuur Hercules op ’n sending na Egipte. Daar word hy as krygsgevangene geneem, as slaaf verkoop en as ’n gladiator in die arena geplaas. Sal hy kan ontsnap en terugkeer Griekeland toe na Hebe?

Die meeste kritici kraak die fliek af. Dit kry slegs drie persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Hulle sê die fliek “is vervelig, lyk goedkoop en bevat vrot toneelspel. The Legend of Hercules is nie pret genoeg om te kwalifiseer as ’n aksiefliek nie en ook nie aangrypend genoeg om op ’n dramatiese vlak te werk nie.” Die Britse fliektydskrif Empire se William Goss gee dit twee sterre en skryf: “Al is daar hope aksie, word dit dikwels gedefinieer deur versnelde beeldmateriaal eerder as opwindende bloedvergieting. Die storie is generies en Lutz is ’n uiters vervelige held.” Nog ’n Britse filmtydskrif, Total Film, se Ken McIntyre gee dit een ster. “Dis amper 50 jaar sedert die goedkoop Italiaanse Hercules-flieks by die inryteater gewys het, maar hierdie armsalige poging om die storie te laat herleef, is nie eens goed genoeg om net as lawwe vermaak te dien nie,” skryf hy. Kom ons hoop maar Dwayne “The Rock” Johnson se weergawe van die mite, Hercules, sal later vanjaar beter vaar.

Die biografiese fliek One Chance (7-9OT) handel oor Paul Potts (James Corden van The History Boys), ’n skaam, geboeliede Walliese winkelassistent wat daarvan droom om ’n operaster te word. Die fliek bekyk sy lewe tot hy eindelik sukses behaal danksy sy optrede op Britain’s Got Talent.

Die meeste resensente hou van die fliek. Dit kry 51 uit 100 gebaseer op ag resensies op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Empire se Liz Beardsworth gee dit drie sterre. “Die humor voel lomp en ’n bietjie geyk, maar James gee ’n hartlike, empatiese vertolking, die ondersteunende rolverdeling Britse staatmakers speel saam al hoef hulle nie juis hard te werk nie, en daar is ’n onherbergsame skoonheid aan die manier waarop Florian Ballhaus die Walliese industriële landskap afneem waar Potts woon,” skryf sy. David Rooney van The Hollywood Reporter beskryf dit as “ ’n inspirerende ware verhaal wat sy geykte vertelstyl deur middel van humor, emosie en beminlike toneelspel oorkom”.

Net betyds vir Paasfees is Son of God (10-12OT). Die minireeks The Bible het verlede jaar groot opspraak in Amerika verwek. Dit bestaan uit 10 episodes, waarvan vyf dele uit die Ou Testament dramatiseer en vyf Jesus se verhaal vertel. Beeldmateriaal uit die laaste vyf episodes is herredigeer om die vollengtefliek Son of God te skep. Die Portugese akteur Diogo Morgado speel Jesus en Roma Downey van die TV-reeks Touched by an Angel is te sien as sy moeder, Maria.

Die meeste resensente is nie veel beïndruk met die fliek nie. Dit kry 37 uit 100 op Metacritic en 22 persent op Rotten Tomatoes, wat bevind “gelowiges sal moontlik meegevoer word, maar as ’n mens dit suiwer in terme van rolprentkuns beoordeel, is Son of God vervelig en lomp”. Stephan Lee van Entertainment Weekly gee dit ’n C+. “Hierdie biografiese fliek is ’n getroue en onaanstootlike uitbeelding van elke gebeurtenis in Jesus se lewe. Die meerderheid van die toneelspel is niks om oor opgewonde te raak nie. Diogo speel Jesus as ’n gawe ou maar met ’n totale gebrek aan charisma. Hierdie weergawe kan ten beste beskryf word as ’n gepaste Sondagskool-aanvulling, maar dié flou fliek is genoeg om jou te laat verlang na Mel Gibson se The Passion of the Christ (2004).”

Kevin Carr van 7mpictures.com gee dit ’n halwe ster. “Diogo bied een van die verveligste vertolkings ooit van Jesus,” skryf hy. “Daar is geen passie in sy toneelspel nie. Hy lyk so verveeld soos ek gevoel het. Pleks van inspirerend wees, voel die fliek soos ’n vervelige preek deur ’n pastoor met ’n eentonige stem oor ’n deel van die Bybel waarvan jy al honderd keer gehoor het en bied geen nuwe insig of onthulling nie.”

Sabotage (16TG) is die eertydse aksieheld Arnold Schwarzenegger se derde fliek sedert hy uit die politiek getree het. Arnie speel die bevelvoerder van ’n elite-taakspan wat die wêreld se wreedste dwelmbase aanvat. Nadat hulle ’n belangrike sending voltooi het, dink hulle hul werk is afgehandel, maar dan word hulle een vir een geëlimineer. Kan hulle agter die kap van die byl kom voor dit te laat is? Sam Worthington (Avatar), Terrence Howard (Prisoners), Josh Holloway van die TV-reeks Lost en Joe Manganiello van die TV-reeks True Blood speel ook daarin.

Die meeste resensente dink die fliek is swak. Dit kry 22 persent op Rotten Tomatoes, wat bevind “Sabotage bevat een van Arnold se beter vertolkings ná sy tyd in die politiek, maar dit word vermors in ’n fliek wat deur uitputtende geweld gedryf word”. Kofi Outlaw van screenrant.com gee dit een en ’n half sterre. “Dié wat op soek is na ’n lekker skop, skiet en boomklimfliek kry een groot aksietoneel, ’n paar kleiner tonele, hope bloed en vloekwoorde, en dis omtrent dit. As dit nie vir die kwaliteit van die rolverdeling en produksie was nie, sou die fliek nie vermeldingswaardig wees nie,” skryf hy. Julian Roman van movieweb.com gee dit twee en ’n half sterre. “Sabotage is die moeite werd vir aksie- en Arnie-aanhangers. Ek dink dis sy vermaaklikste fliek sedert hy opgehou het om die Governator te wees. Dis beslis nie volgens almal se smaak nie – dis vol uiterste geweld – maar uiters genotvol as jy ’n dosis aksie verlang,” skryf hy.

Dan is daar ook die gruwelfliek Devil’s Due (16TG). Tydens hul wittebrood word ’n pasgetroude paartjie, Samantha (Allison Miller van die TV-reeks Terra Nova) en Zach (Zach Gilford van The Last Stand), een oggend wakker en kan albei niks van die vorige aand onthou nie. Dan kom hulle agter Samantha is swanger en Zach besluit om alles op video vas te lê, maar soos die tyd aanstap, besef hy daar’s iets ernstigs fout toe Samantha ál vreemder begin optree.

Die meeste resensente maak dié fliek af as ’n spul snert. Dit kry 33 uit 100 op Metacritic en 18 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “afgewater en meestal ongeïnspireerd. Devil’s Due dra min by tot die gruwel-genre of die nuwe gier om flieks te maak wat lyk asof hulle bestaan uit regte tuisvideo’s, en is tevrede daarmee om albei net na te aap”. Empire se gruwelkenner Kim Newman gee dit twee sterre. Hy beskryf dit as Rosemary’s Baby in die styl van Paranormal Activity, maar voel dis “’n gewone, vergeetlike gruwelfliek. Selfs die duiwel verdien beter.” Die gesiene Britse resensent Mark Kermode is ’n bietjie positiewer en gee dit drie sterre, maar sy resensie laat dit meer soos ’n tweester-fliek klink. “Terwyl nuwelinge in die genre dalk redelik banggemaak sal word deur die verhaal, sal die res van ons se aandag afgetrek word deur die vreesaanjaende vlak van herwinning: Die fliek steel idees by Rosemary’s Baby (1968), The Omen (1976), The Blair Witch Project (1999) en vele meer,” skryf hy.

Sandra Visser