NATM3_QUAD_AW

Die museum-nagwag Larry Daley (Ben Stiller) kom agter die goue Egiptiese tablet wat al die uitstallings in die museum elke nag lewendig laat word, is besig om te erodeer en verloor daarom sy toorkrag. Dit beteken sy vriende, insluitend die waspoppe van die Amerikaanse president Theodore Roosevelt (Robin Williams), die Romeinse soldaat Octavius (Steve Coogan) en ’n cowboy genaamd Jedediah (Owen Wilson), sal nie meer lewendig kan word nie en verewig stom bly. Om dit te voorkom reis Larry en sy pelle na Londen om die tablet se skepper op te spoor.

Tot dusvêr dink die meeste resensente die fliek is middelmatig. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 48 persent. Hulle bevind: “Al het die fliek sy oomblikke, is dit nie juis ’n indrukwekkende laaste hoofstuk nie.”

Max Nicholson van ign.com is positiewer en gee dit 6,3 uit 10. “Secret of the Tomb bevat ’n oorvloed spesiale effekte en ’n handjie vol nuwe karakters,” skryf hy. “Dis omtrent net so genotvol soos die eerste twee flieks. Vir gesinne en jonger gehore is dit beslis nie die slegste manier om ’n middag deur te bring nie. Maar soos met die eerste twee sal dié fliek niemand se lys van die jaar se beste flieks haal nie, die sterbelaaide rolverdeling en Disney-agtige sjarme ten spyt. Al is dit duidelik die intrige en akteurs se gô is uit, loop die storie teen ’n stewige spoed en die beelde is uit die boonste rakke. Ongelukkig kan daar nie dieselfde vir die emosionele impak gesê word nie.”

Maar Karen Krizanovich van film.list.co.uk is minder toegeeflik en gee dit twee sterre. “Stiller lyk verveeld, en ten spyte van verfrissende kameeverskynings deur ’n paar bekende gesigte en die laaste, skitterende verskyning van Williams, is dit so geforseerd en beroerd dat jy jou in die gesig sal wil slaan.”

Ná ’n lang droogte speel Keanu Reeves weer ’n hoofrol in ’n fliek wat blyk die moeite werd te wees. Hy vertolk die naamrol in John Wick (16TG), waarvan die intrige redelik afgesaag klink: ’n Huurmoordenaar besluit om sy misdadige lewe agter te laat en oor te begin. Maar dan vang sy motor ’n bendeleier se oog en hy steel dit, en maak boonop John se hond dood. Gou is John weer oorgehaal om geweld te pleeg.

Ten spyte van hierdie beskrywing wat minder as belowend is, is die meeste resensente baie beïndruk met die fliek. By Rotten Tomatoes kry dit 85 persent en hulle beskryf dit as “stylvol, opwindend en vol energie. John Wick is ’n bevredigende terugkeer na aksie vir Keanu – en dit lyk asof dit die begin van ’n nuwe reeks kan wees.” Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 67 uit 100.

Peter Travers van Rolling Stone gee dit drie uit vier sterre. “Dis die soort vuurwarm aksie waarvan sommige van ons nie genoeg kan kry nie,” skryf hy. “Jy weet wie jy is. Reeves, wat altyd ’n ratse teenwoordigheid in enige askiefliek het, doen wat van hom verwag word en meer. Chad Stahelski, wat voorheen vir Keanu in waaghalstonele ingestaan het, se regie toon sy aanleg vir momentum en skote wat jou midde-in die gevegte plaas.”

James Berardinelli van reelviews.net gee dit ook drie uit vier sterre. “John Wick is ’n besielende aksieriller van die soort wat ’n mens deesdae min in die fliekteater sien,” skryf hy. “Die eens gewilde genre, wat met Stallone en Schwarzenegger aan die stuur van sake sy bloeitydperk beleef het, het stadig maar seker in die laaste twee dekades uitgesterf. En hier kom ’n onwaarskynlike kandidaat, Keanu Reeves, en gee dit weer lewe. John Wick se groot sterkpunt is die fliek se meedoënlose momentum. Dit is ’n aksiefliek met met skop en sonder pretensies.”

Die bekroonde Britse regisseur Mike Leigh (Vera Drake, Secrets & Lies) is terug met nog ’n wenner. Mr. Turner (13S) fokus op die laaste 25 jaar van die meesterlike dog eksentrieke Engelse romantiese landskapskilder J.M.W. Turner (1775-1851) se lewe. Die kyker beleef hoe diep bedroef Turner (Timothy Spall) oor sy pa se dood is. Sy huishulp (Dorothy Atkinson) is op hom verlief, maar hy waardeer haar nie. Hy knoop ’n verhouding aan met ’n vrou (Marion Bailey) wat ’n losieshuis bedryf en gaan woon op die ou end by haar. Tussendeur reis hy, skilder hy, besoek hy bordele en kuier hy by verskeie adellikes.

Die kritici is gaande oor dié fliek. Dit kry ’n uitmuntende 97 persent op Rotten Tomatoes, wat bevind: “Dit is ’n voortreflike biografiese prent wat gedra word deur ’n meesterlike vertolking deur Timothy en briljante regie van Mike.”

Die Britse rolprenttydskrif Empire se Ian Nathan gee dit vyf sterre. “Dit skitter met die potensiaal om toekennings in te ryg,” skryf hy. “Leigh se pragtige rolprent is ’n skreeusnaakse, verbysterende, heelhartige en glansende portret van die kunstenaar as ’n ouer man.”

Neil Smith van die Britse rolprenttydskrif Total Film gee dit ook vyf sterre. “Een meesterlike Britse kunstenaar betoon eer aan ’n ander in ’n omslagtige maar lonende huldeblyk met ’n grootse vertolking as middelpunt.”

Die gruwelprent Jessabelle (16G) handel oor ’n jong vrou, Jessie (Sarah Snook), wat ná ’n ernstige motorongeluk na haar ouerhuis in Louisiana in die VSA om te herstel. Maar daar wag ’n gekwelde gees op haar wat wraak soek en haar nie gaan laat wegkom nie.

Die meeste resensente dink dis maar ’n flou fliek. Dit kry 37 uit 100 by Metacritic en slegs 25 persent by Rotten Tomatoes. Hulle bevind: “Jessabelle dui op ’n blink toekoms vir die aktrise Sarah Snook, maar die fliek vertroebel haar vertolking met ’n smaaklose storie vol clichés.”

Sheila O’Malley van rogerebert.com gee dit een en ’n half sterre. “Die fliek is interessant en van sy fynere detail dra die atmosfeer van die Louisiana-bayou sterk oor,” skryf sy. “En dan val dit net heeltemal uitmekaar wanneer dit ’n gruwelfliek word. Die trauma in die gesin het baie potensiaal, maar dit word alles oorboord gegooi ten gunste van goedkoop bangmaak-oomblikke wat jou net nie genoeg laat skrik nie en ’n belaglike intrige wat inmekaartuimel sodra jy daaroor begin nadink.”

Matt Patches van ign.com gee dit 4,3 uit 10. “Oorbekendheid spook van begin tot einde by die prent,” skryf hy. “Dis die soort fliek waar jy duidelik elke bangmaak-oomblik kan sien kom; die stadig bewegende kamera en bewerige klankbaan gee alles weg. Sodra die oomblik kom, moker die regisseur Kevin Greutert dit met oordrewe kameraskuiwe en ’n kreunende demoon so reg uit Japannese gruwelprente. Jessabelle is chaoties en meedoënloos, maar die ware vreesaanjaende oomblikke spruit uit die ontstellende gevoel van déjà vu.”

- Sandra Visser