Vandeesweek roep ons vaarwel aan Middle-earth met The Hobbit: The Battle of the Five Armies (10-12OG), die laaste fliek in die trilogie oor die avonture van die hobbit Bilbo Baggins (Martin Freeman), Gandalf die towenaar (Ian McKellen) en die 13 dwerge onder leiding van Thorin Oakenshield (Richard Armitage) wat hul tuiste, die Lonely Mountain, van die draak Smaug (Benedict Cumberbatch se stem) wil terugeis. Maar die duistere magte van die bose Sauron is ook aan die opmars en die mense, dwerge en elwe moet besluit of hulle teen hom gaan saamstaan of toekyk hoe hul wêreld vernietig word.

Die meeste resensente dink dit is ’n baie goeie fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 78 persent. Hulle beskryf dit as “gepas donker, epies en aksiebelaaid. The Hobbit: The Battle of the Five Armies sluit Peter Jackson se tweede Middle-earth-trilogie op ’n dawerende hoë noot af.”

Die Britse rolprenttydskrif Empire se James Dyer gee dit vier sterre. “Dit is ’n gepaste afsluiting van Jackson se trilogie en ’n triomfantelike vaarwel aan Middle-earth,” skryf hy. “Noudat die storie voltooi is, kan ons The Hobbit beskou as ’n waardige opvolger vir The Lord of the Rings, al kon dit nooit heeltemal uit laasgenoemde se skaduwee tree nie. Jackson het ’n grootse, outydse verhaal geskep waarop die skrywer, JRR Tolkien, trots sou kon wees, en met ’n enkele, eenvoudige oomblik aan die einde bied hy ’n baie netjieser slot as wat The Return of the King (2003) ooit gelewer het.”

Die Britse filmtydskrif Total Film se Richard Edwards stem saam en gee dit ook vier sterre. “Die debat sal aanhou woed oor of dit regtig nodig was om The Hobbit in drie flieks te verdeel, maar Peter het sy Middle-earth-saga van ses flieks voltooi sonder om ’n groot flater te begaan,” skryf hy. “Dit is een van die grootste prestasies in die filmwese.”

Die drama Love Is Strange (10-12OTN) handel oor Ben (John Lithgow van die TV-reeks Third Rock from the Sun) en George (Alfred Molina van Spider-Man 2), twee middeljarige inwoners van New York wat ná meer as 40 jaar saam eindelik kan trou. Maar toe verloor George sy werk en word hulle genoop om hul woonstel te verkoop en apart te woon tot tyd en wyl hulle ’n bekostigbaarder blyplek kan kry. George trek in by twee polisiemanne (Cheyenne Jackson en Mannie Perez) wat in dieselfde gebou woon, terwyl Ben by sy susterskind (Darren Burrows), dié se vrou (Marisa Tomei van Crazy, Stupid, Love) en hul temperamentele tienerseun (Charlie Tahan van Charlie St. Cloud) beland. Boonop moet hy ’n kamer met die seun deel. Die tyd stap aan en Ben en George dryf ál verder uitmekaar. Gaan hulle ooit ’n oplossing vir hul finansiële krisis vind?

Die meeste kritici dink dit is ’n uitstekende fliek. Op Rotten Tomatoes kry dit 97 persent en hulle bevind: “John en Alfred se merkwaardige vertolkings dra Love Is Strange. Die fliek dien as ’n elegante huldeblyk aan die prag van toewyding in die aangesig van teenspoed.”

Nathalie Atkinson van die Kanadese koerant The Globe and Mail gee dit drie uit vier sterre. “Dit is nie ’n uitdagende fliek nie; dit gaan oor subtiele toneelspel,” skryf sy. “Die feit dat New York nou eindelik huwelike tussen gay pare toelaat, is eintlik ’n bysaak, en die fliek bied slegs ’n stille veroordeling van onreg en skynheiligheid. Andersins is dit ’n baie tradisionele liefdesverhaal en die fliek se emosionele krag lê in die akteurs se ryk maar genuanseerde toneelspel.”

Steven Rea van die koerant Philadelphia Inquirer gee dit drie en ’n half uit vier sterre. “Die fliek het ’n soort sagmoedigheid en empatie wat jou sal inspireer,” skryf hy. “Lithgow en Molina is uitstekend – jy glo hulle volkome in dié rolle. Die fliek sal jou hart breek, maar jou ook opbeur.”

As jy lus is vir ’n oulike, effens aweregse romantiese komedie soos net die Britte dit kan doen, kan jy Love, Rosie (13TS) gerus kyk. Dit is gegrond op die roman When Rainbows End deur Cecilia Ahern en handel oor die titelkarakter (gespeel deur Lily Collins van Mirror, Mirror) en Alex (The Hunger Games: Catching Fire se Sam Claflin), wat al van vyfjarige ouderdom beste vriende is. Hulle kan moontlik meer vir mekaar beteken, maar verskeie struikelblokke, insluitend Alex se verhuising na Amerika en Rosie se onbeplande swangerskap by ’n ander man, keer hulle. Gaan die twee ooit hulle storie agtermekaar kry?

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar tot dusvêr kry dit slegs 30 persent op Rotten Tomatoes, al het hulle nog nie ’n konsensus bereik nie, en 46 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk.

Empire se Anna Smith gee dit drie sterre. “Die intrige dwaal ’n bietjie doelloos deur die jare rond, maar die sprankelende, innemende toneelspel en ’n sporadies amusante draaiboek hou dinge vermaaklik. Van Rosie se wedervaringe voel soos dié van ’n effens stouter, jonger Bridget Jones, maar dit sal byval vind by aanhangers van Ahern se boek.”

Maar Time Out se Cath Clarke is nie so beïndruk nie en gee dit net twee sterre. “Daar is meer romanse as komedie hier, en dit is alles uiters onrealisties,” skryf sy. “Rosie is byvoorbeeld ’n enkelma wat as ’n hotelskoonmaker werk, maar sy woon in ’n spoggerige woonstel in Londen. Claflin en Collins speel die karakters as tieners en volwassenes en trek lawwe gesigte om hulle soos skoolkinders te laat lyk; dit help ook nie veel nie. Groot aanhangers van romantiese komedies sal daarvan hou, maar dis g’n Notting Hill (1999) nie.”

Ewe skielik kry jy ’n musiekspel om elke hoek en draai. Walking on Sunshine (7-9OT) probeer om die sukses van Mamma Mia! (2008) te herhaal deur Britse karakters vir ’n troue na ’n idilliese Mediterreense kusdorpie te stuur. Pleks van Griekeland is ons in Italië, waar Maddie (Annabel Scholey) op trou staan met die smeulende Raf (Giulio Berruti). Sy nooi haar suster Taylor (Hannah Arterton) om te kom kuier. Maar wat Maddie nie weet nie, is dat Taylor destyds ’n vakansieromanse met Raf gehad het en steeds op hom verlief is.

Min kritici het al die fliek onder oë gehad, maar tot dusvêr kry dit ook 30 persent op Rotten Tomatoes, wat nog nie ’n konsensus bereik het nie.

Total Film se Rob James gee dit drie sterre. “Die span agter StreetDance (2010), Brittanje se antwoord op die Step Up-flieks, se benadering is om prullerige kitsch met vroueliteratuur (chick lit) te kombineer en so ’n doelbewus besimpelde karaoke-musiekspel te skep,” skryf hy. “Behalwe vir die stokkerige Leona Lewis is die rolverdeling uitbundig, die sang- en dansnommers niks minder amateuragtig as Mamma Mia! s’n nie en jy kyk met ’n vreemde bekoring hoe die fliek lirieke deur Roxette, Wham! en Cher probeer dwing om by die karakters se romantiese probleme te pas. Dit is moeilik om iets te haat wat so selfbewus laf is.”

Tog is Kate Muir van die Britse koerant The Times glad nie te vinde hiervoor nie en gee dit net een ster. “Jy kan uitsien na verknoeide treffers uit die 80’s, vrot toneelspel en ’n niksbeduidende intrige. Hierdie Britse musiekspel is histeries aaklig.”

- Sandra Visser