Die kordate pikkewyne Skipper (Tom McGrath se stem), Kowalski (Chris Miller), Rico (Conrad Vernon) en Private (Christopher Knights) van die Madagascar-flieks het nou hulle eie prent.

Penguins-of-Madagascar-the-penguins-of-madagascar-18955422-720-540

In Penguins of Madagascar (O) moet die pikkewyne, wat hulle verbeel hulle is topspioene, die geheime organisasie The North Wind help om te keer dat die bose dr. Octavius Brine (John Malkovich van Dangerous Liaisons) die wêreld vernietig.

Die meeste resensente dink dis ’n oulike fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 72 persent. Hulle bevind: “Die fliek is vinnig en vrolik genoeg om jong kinders te vermaak, maar te freneties laf om werklik die hele gesin te vrede te stel.”

Die Britse rolprenttydskrif Empire se Angie Errigo gee dit drie sterre. “In vergelyking met die opwindende Madagascar 3 (2012) is hierdie opvolg net gemiddeld,” skryf sy. “Maar daar is skerp grappies en oulike dierekarakters. Die aksie raak soms vervelig, maar die fliek is amusant genoeg om die toets te deurstaan.”

Cath Clarke van Time Out gee dit ook drie sterre. “Vir ouers wat fliekboffins is, is daar een goeie grappie aan die begin wat met March of the Penguins (2005) spot,” skryf sy. “Die res van dié avontuur is skaflik genoeg vir jong kinders. Die fliek is waansinnig en laf en my grootste klagte is dat die pikkewyne almal dieselfde lyk.”

In die komedie drama My Old Lady (7-9ODT) speel Kevin Kline (A Fish Called Wanda) ’n swerwende Amerikaner, Mathias Gold, wat in Parys aankom om die woonstel te bekyk wat sy oorlede pa aan hom bemaak het. Maar die 90-jarige Mathilde (Downton Abbey se Maggie Smith) woon in die woonstel en Mathias se pogings om van haar ontslae te raak word gedwarsboom deur Mathilde se dogter (Kristin Scott Thomas van The English Patient).

Resensente dink die fliek is skaflik. Dit kry 59 persent op Rotten Tomatoes en hulle bevind: “Al laat My Old Lady nie heeltemal reg geskied aan die rolverdeling se talente nie, dra Kevin en Maggie die fliek lag-lag wanneer hulle op die skerm is.”

Maar Empire se Angie Errigo is minder opgemaak met die fliek en gee dit twee sterre. “Die fliek benut nie die ervare akteurs se sterk punte nie. Dis deurmekaar en sonder sjarme,” skryf sy.

Dave Calhoun van Time Out gee dit ook twee sterre. “Niks omtrent hierdie eksentrieke verwerking deur die American dramaturg Israel Horovitz van sy eie 2002-verhoogstuk regverdig dat dit verdien het om in ’n fliek omskep te word nie,” skryf hy. “Die akteurs speel nie goed saam nie en die stemming wissel ongemaklik tussen melodrama en iets rustigers. Dis te sentimenteel en teatraal om ernstig op te neem.”

Nicolas Cage (Con Air) ding weer mee teen Bruce Willis en John Cusack om te kyk watter een sy eens goeie naam die meeste krater kan maak met sy hoofrol in Left Behind (13G). Dis ’n nuwe weergawe van Left Behind: The Movie (2000) wat gegrond is op die gewilde reeks boeke deur Tim LaHaye en Jerry B. Jenkins. Nicolas speel ’n loods wat tydens ’n vlug geskok is toe sy medevlieënier skielik verdwyn. Dan kom hy agter dis die wegraping wat in die Bybel voorspel is en probeer hy, sy dogter (Cassi Thomson van die TV-reeks Switched at Birth) en ’n paar ander wat ook oorgebly het, oorleef in ’n wêreld wat in ’n chaos gedompel is.

Die kritici het omtrent hierdie fliek uitmekaargeskeur. Dit kry slegs 12 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit twee persent en die konsensus is: “Soos ’n plaag sprinkane saai Left Behind verwoesting in Nicolas Cage se eens trotse CV.”

James Berardinelli van reelviews.net gee dit ’n halwe ster uit vier. “Die eerste Left Behind was ’n goedkoop, stroperige affêre met Growing Pains se Kirk Cameron in die hoofrol, maar verbasend genoeg het hierdie weergawe met meer geld en ’n beter hoofakteur, ’n slegter draaiboek, goedkoper stelontwerp en minder afgeronde toneelspel,” skryf hy. “Daar was ’n tyd toe ek nie gedink het enige akteur kan verder val as Marlon Brando nie. Superman (1978) was erg genoeg, maar The Island of Doctor Moreau (1996)? Maar met dié fliek het Nicolas hom verby gesteek. Dis moeilik om te glo ’n Oscar-bekroonde akteur sal in hierdie produksie speel al het hy die geld ook hoe nodig.”

Die deurwinterde Amerikaanse kritikus Susan Granger gee dit een uit 10. “Die veteraanwaaghals Vic Armstrong hou nou sy lyf regisseur, maar hy het geen benul hoe om spanning op te bou nie,” skryf sy. “Hy gebruik clichés, soos harde geluide en mense en voorwerpe wat onverwags en om geen rede nie uitspring, om ons te laat skrik. Die toneelspel is aaklig. Nie een van die akteurs maak hul karakter empatiek of oortuigend nie, en daarom word hulle situasie net al hoe meer belaglik. Dieselfde konsep is baie beter deur die HBO TV-reeks The Leftovers gebruik sonder die lomp evangeliese propaganda.”

Omar (16TG) handel oor die titelkarakter, ’n jong Palestynse bakker (Adam Bakri), wat dikwels oor die skeidingsmuur in Israel se Wesbank klouter om sy meisie (Leem Lubany) te sien. Saans is hy ’n vryheidsvegter (of terroris, besluit maar self) wat saam met sy vriende die Israelse weermag aanvat. Maar toe hulle hom vastrek, stem hy in om as informant te werk. Vertel hy leuens aan sy Israelse kontak of gaan hy die saak verraai in ruil vir sy vryheid?

Resensente dink dis ’n uitstekende fliek. Metacritic gee dit 75 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 91 persent. Hulle bevind: “Omar is aangrypend en vol kinkels – dis ’n misdaaddrama met goeie regie en ongewone diepte.”

Die Britse rolprenttydskrif Total Film se Andrew Lowry gee dit vier sterre. “Hierdie verhaal kan in enige tydperk afspeel, maar omdat dit die moderne wêreld is, is dit elektries en ingestel op die reuse morele vraagstukke van die alledaagse lewe,” skryf hy.

Drew Hunt van chicagoreader.com gee dit ook vier sterre. “Die regisseur Hany Abu-Assad (Paradise Now) is dalk te opgemaak met sy eie simboliek, maar hy hou die aksie aan die gang en die dubbelsinnige einde sal jou ruk.”

- Sandra Visser