Die regisseur Christopher Nolan, bekend vir sy meesterlike, intelligente lokettreffers soos die onlangse Batman-trilogie en Inception (2010), is terug met Interstellar (13).

Die Aarde is besig om te sterf en ons bronne is amper uitgeput; daarom word ’n span bestaande uit die voormalige ruimtevaarder Cooper (Matthew McConaughey van Magic Mike) en onder andere die wetenskaplikes Brand (Anne Hathaway van The Devil Wears Prada) en Doyle (Wes Bentley van The Hunger Games) aan boord van die mensdom se laaste ruimtetuig gestuur om uit te vind of daar iewers ’n plek in die heelal is waar ons kan oorleef.

Die fliek kry goeie resensies van die meeste kritici. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat resensente aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 71 persent. Hulle bevind: “Interstellar is nog ’n voorbeeld van die opwindende, visueel treffende en stof-tot-nadenke-flieks wat kykers nou al van die skrywer-regisseur Christopher Nolan verwag, selfs al kan die fliek nie heeltemal sy ambisies verwesenlik nie.”

Die Britse fliektydskrif Empire se James Dyer is heeltemal oorstelp en gee dit vyf sterre. Hy beskryf Interstellar as “hiperslim, soms van lotjie getik en pragtig om na te kyk. Dit is Stephen Hawking se Star Trek dié: ’n ingewikkelde ruimteavontuur met ’n siel tussen al die wetenskap”.

Die Britse filmtydskrif Total Film se Richard Jordan raak effens minder liries en gee dit vier sterre. “Nolan reik na die sterre op ’n skouspelagtige manier en lewer ’n fassinerende wetenskapsfiksie-avontuur wat, ten spyte van ’n tydsduur wat jou geduld sal toets en effens te veel verbeeldingsvlugte, geanker word deur McConaughey op sy beste.”

Ná Harry Potter het Daniel Radcliffe verskeie fliekgenres aangedurf en nou takel hy ook ’n romantiese komedie. What If (13 TS) stel die eeue-oue vraag: Wat as jou beste vriend eintlik jou sielsgenoot is? Daniel speel Wallace, wat al te veel seergekry het en besluit om eers sy liefdeslewe in die yskas te sit. Dan ontmoet hy die oulike Chantry (Zoe Kazan van Ruby Sparks) en hulle vind dadelik aanklank bymekaar. Chantry is egter gelukkig in haar verhouding met Ben (Rafe Spall van Life of Pi) en daarom besluit hulle om net vriende te wees. Maar gaan die liefde tog blom?

Die meeste resensente hou van die fliek. Dit kry 59 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en 69 persent by laasgenoemde. Hulle bevind: “What If se intrige is dalk oorbekend, maar die fliek oorkom hierdie afgewaterde elemente met skerp dialoog en sprankelende wisselwerking tussen Daniel en Zoe.”

Empire se Dan Jolin gee dit drie sterre en voel as Daniel lus is, kan hy beslis Hugh Grant se skoene vol staan in romkoms as die bleek, skaam en ordentlike Britse held wat vir die Amerikaanse meisie val. “Die fliek is volgens ’n resep, oorbekend en voorspelbaar,” skryf hy. “Maar dis ook innemend, die akteurs is perfek in hul rolle en dit bevat genoeg geesdrif om uit te styg bo die deursnee romantiese komedie.”

Cath Clarke van Time Out gee dit ook drie sterre. Sy voel die fliek bevat te veel elemente wat ons reeds gesien het, maar Daniel is so dierbaar en sy toneelspel so oortuigend, dit maak die fliek die kyk werd.

In die misdaaddrama Blood Ties (16 TG) speel Clive Owen (King Arthur) en Billy Crudup (Watchmen) broers wat weerskante van die gereg staan. Dis New York in die 70’s en die middeljarige Chris (Owen) word uit die tronk vrygelaat. Sy broer, Frank (Crudup), wat vir hom buite die hek wag, is ’n jong polisieman met ’n blink toekoms. Frank probeer sy bes om Chris te help om ’n nuwe lewe te begin, maar dis nie lank voor hy weer terugkeer na sy ou gewoontes nie. Zoe Saldana (Avatar), Mila Kunis (Black Swan) en Marion Cotillard (The Dark Knight Rises) is ook onder die rolverdeling.

Die meeste kritici dink die fliek is oukei. Dit kry 53 persent op Rotten Tomatoes, waar die konsensus die volgende is: “Blood Ties spog met ’n uitstekende rolverdeling en ’n outentieke historiese gevoel, maar misluk daarin om enigiets nuuts met die geykte storie te doen.”

Total Film se James Mottram is meer geneë en gee dit drie sterre. “Ondanks ’n indrukwekkende rolverdeling is dit ’n uitgerekte, soms slordige fliek en nie naastenby so goed soos die regisseur Guillaume Canet se Tell No One (2006) nie,” skryf hy. “Maar hou net uit en jy sal beloon word; die einde is ’n uitklophou.”

Leslie Felperin van die Britse koerant The Guardian gee dit net twee sterre. “Dis ’n uiters groot vermorsing van talent en word verswak deur onnodige reaksieskote van karakters en ander tonele wat Canet duidelik net nie kon laat gaan nie,” skryf hy.

The Good Lie (13 DG) is gegrond op die ware verhaal van vier Soedannese seuns wat weens die burgeroorlog in 1983 uit hul land vlug. Nadat hulle 13 jaar deur Afrika saam met ander vlugtelinge rondgeswerf het, kry hulle die kans om Amerika toe te gaan en ’n nuwe lewe te begin. In Kansas ontmoet hulle Carrie Davis (Reese Witherspoon van Legally Blonde), ’n berader wat hulle help aanpas. Sy probeer aanvanklik haar afstand hou, maar die seuns kruip gou in haar hart.

Die meeste resensente hou van die fliek. Metacritic gee dit 65 uit 100 en Rotten Tomatoes 85 persent. Hulle bevind: “Die nuanse van die regte wêreld word opgeoffer om hierdie ware verhaal in ’n Hollywood-produksie te omskep, maar die eindresultaat is steeds ’n meesleurende drama wat jou diep sal raak en goeie toneelspel bevat.”

Peter Travers van Rolling Stone gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Die sinici kan maar ontspan. The Good Lie volg nie die voorbeeld van The Blind Side (2009) nie en plaas nie ’n stralekrans bo die kop van ’n enkele vasbeslote wit vrou wat die netelige kwessie van wêreldwye rassisme oplos nie,” skryf hy. “Ja, Reese se naam is bo die titel, maar vir die eerste halfuur sien ons glad nie haar karakter nie en fokus die regisseur, Philippe Falardeau, op die situasie waarin die kinders hulle bevind. Die gebrek aan sentimentaliteit is verfrissend. Ek kan ’n goeie leuen vertel en sê die fliek is perfek; dit is nie. Dis dikwels amper te opreg en skram weg van die dieper, donkerder implikasies. Maar jy sal nie die fliek onaangeraak verlaat nie; die filmmakers se hart is beslis op die regte plek.”

James Berardinelli van reelnews.net gee dit ook twee en ’n half uit vier sterre, maar is negatiewer. “Die storie se verloop is oneweredig, ’n mens sukkel om met die karakters te identifiseer en daar is nie juis dramatiese momentum nie,” skryf hy. “Die fliek se emosionele impak is verbasend flou vir ’n verhaal wat sulke onderwerpe aanraak. Daar’s die gevoel dat The Good Lie iets dieps wil sê, maar die boodskap is net so verwarrend soos die fliek se deurmekaar uitbeelding van die geskiedenis.”

As jy net lus is vir ’n skop, skiet en slaan fliek kan jy The Prince (ouderdomsbeperking nog nie beskikbaar nie) gaan kyk. Hierdie tweederangse aksieriller het Jason Patric (Speed 2), Bruce Willis (Die Hard) en John Cusack (2012) in die hoofrolle, wat bewys dat dié drie se finansies seker ’n kontantinspuiting kort. ’n Afgetrede sluipmoordenaar (Patric) word gedwing om weer sy vuurwapen uit te pluk en sy beste vriend (Cusack) se hulp te vra nadat sy dogter deur ’n ou vyand (Willis) ontvoer word.

Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie, maar sover gee Metacritic dit 17 uit 100 gegrond op ses resensies. Jordan Hoffman van New York Daily News gee dit een ster. “Bruce en John, wat reeds met Nicolas Cage wedywer om te kyk wie die vinnigste hulle loopbaan permanent kan skend, staan nader om hul salaristjekkies te kry vir The Prince, waarin Jason die intrige van Taken (2008) herskep sonder enige van die charisma of energie van daardie fliek,” skryf hy. “The Prince is nie net vrot nie; dis neerdrukkend. Willis lyk verveeld en Cusack lyk selfs kwaad. Dis asof hulle almal skaam is dat hulle in so ’n fliek speel. Die beste wat jy kan doen om hulle te eer, is weier om dit te kyk.”

- Sandra Visser