As jy meer as net ontploffings en skouspel in jou wetenskapsfiksie soek, kan jy gerus Dawn of the Planet of the Apes gaan kyk. Dis die opvolgprent op Rise of the Planet of the Apes (2011), wat nuwe lewe geblaas het in die stokou Planet of the Apes-reeks. In Rise is ape gebruik as proefkonyne om ’n geneesmiddel vir Alzheimer-siekte te skep. Die eksperiment maak die ape superintelligent, maar is dodelik vir mense en wis die meeste van die mensdom uit. Tien jaar later voer die ape en hul leier, Caesar (Andy Serkis van King Kong), ’n vreedsame bestaan in die woude naby San Francisco. Maar dan betree ’n groep mense hul gebied om ’n versperde rivier te ontstop wat hopelik hidro-elektriese krag kan verskaf. Caesar en die groep se leier, Malcolm (Jason Clark van The Great Gatsby), probeer hul verskille oorbrug, maar van die ander ape en mense is ongelukkig met dié idee en gaan dit nie daar laat nie.

Die resensente is in die algemeen vreeslik beïndruk met die fliek. Dit kry ’n verbysterende 96 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks gee, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Dawn se intelligensie en emosie is net so sterk soos die fliek se puik visuele effekte. Dit bou voort op Rise en is ’n opwindende en ambisieuse prestasie in wetenskapfiksie.” Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film is net so beïndruk met die fliek en gee dit albei vier sterre. Eersgenoemde se Ian Nathan prys die visuele effekte; hy sê dit is so goed, jy vergeet jy kyk nie na regte ape nie. “Die effekte voldoen bloot aan (die regisseur Matt) Reeves se vereistes,” skryf hy. “Dit definieer nie sy storie nie en is nie daar vir skouspel nie. Hy wil hê jy moet aandag skenk aan wat in die storie gebeur.” Total Film se Richard Jordan skryf: “Die balans wat Reeves tussen die groot aksietonele en kleiner, intiemer oomblikke handhaaf, is bewonderenswaardig.”

Earth to Echo  is nog ’n wetenskapsfiksiefliek, maar dis gemik op kinders en kan as goeie vakansievermaak dien. Dit handel oor drie tienervriende, Tuck (Brian Bradley), Munch (Reese Hartwig) en Alex (Teo Halm), wie se lewe onherroepelik verander omdat hul buurt plek moet maak vir ’n snelweg en hul gesinne na verskillende plekke wegtrek. Twee dae voor hulle afskeid moet neem, ontvang hulle vreemde seine op hul selfoon. Hulle probeer die oorsprong van die sein vind en kom dan af op ’n ruimtewese wat hul hulp nodig het om weer by die huis te kom.

Die meeste kritici dink die fliek is gemiddeld. Dit kry 52 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 49 persent en die konsensus is: “Deur te veel by E.T. te leen, stel Earth to Echo hom net in ’n slegte lig, maar vir jonger kykers behoort dit vermaaklik genoeg te wees.” Kyle Smith van die New York Post noem dit ’n skaamtelose E.T.-nabootsing en gee dit een ster. “Selfs al duur dit net 82 minute, voel die fliek te lank. Dis wat gebeur wanneer die gehoor lankal vooruit kan raai wat gaan gebeur. Selfs die 12-jariges op wie die fliek gemik is, is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie.”

Kofi Outlaw van screenrant.com is toegeefliker en gee dit drie sterre. “Die fliek kan beskryf word as ’n kruising tussen The Goonies (1985) en E.T. (1982) wat veronderstel is om soos amateur-opnames te lyk,” skryf hy. “Dit vang baie van die betowering en warmte van E.T. vas en voeg die avontuur en gevaar van Goonies by, maar word teruggehou deur die beperkings van die verfilmingstyl. Die eindresultaat is ’n vars tog oorbekende wetenskapsfiksie-avontuur vir tieners, wat nie so goed is soos wat dit kon wees nie, maar steeds vermaaklik genoeg is.”

Met Third Person (16TGS) vertel Paul Haggis, die regisseur van die Oscar-bekroonde drama Crash (2004), weer verskeie storielyne wat met mekaar verweef word. Hierdie keer is daar drie verhale wat in drie stede afspeel. Michael (Liam Neeson van Taken), ’n skrywer, los sy vrou, Elaine (Kim Basinger van LA Confidential), en trek Parys toe saam met sy minnares, Anna (Olivia Wilde van Tron: Legacy). In New York is Julia (Mila Kunis van Black Swan) onlangs daarvan aangekla dat sy haar sesjarige seun probeer vermoor het, wat sy heftig ontken. Die kind is nou in die sorg van sy pa, Rick (James Franco van Oz the Great and Powerful), wat alles probeer om die kind van Julia weg te hou. In Rome raak die Amerikaanse sakeman Sean (Adrien Brody van King Kong) verlief op ’n Romani-vrou (Moran Atias van The Next Three Days) wie se kind deur ’n bendeleier ontvoer is.

Die meeste kritici dink dis ’n swak fliek. Dit kry slegs 37 uit 100 op Metacritic en 21 persent op Rotten Tomatoes. Die konsensus is: “Paul het ’n uitstekende rolverdeling en interessante storie tot sy beskikking. Ongelukkig misluk hy daarin om hierdie elemente in ’n deurlopend boeiende fliek te omskep.” Ty Burr van The Boston Globe gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “As Haggis net daarmee tevrede was om by die melodrama te hou, sou hy ’n heel ordentlike fliek gehad het,” skryf Ty. “Maar hy is nie; hy verkies om ’n dieper betekenis aan gebeure te probeer verleen; daarom loop Third Person ver langer as twee uur en stort in duie omdat dit te hard probeer om slim te wees.”

Maar Frank Swietek van oneguysopinion.com gee dit ’n B. “Deur verskeie storielyne te verweef, lewer Paul kommentaar op een tema, soos met Crash,” skryf hy. “Die benadering werk nie so goed in hierdie geval nie, veral aangesien die ontknoping een van daardie truuks is wat net soveel kykers sal frustreer as wat dit bevredig. Maar op pad daarheen opper die fliek kwellende vrae en bied goeie toneelspel.”

As jy hou van dramas wat nie wegskram van die harde werklikheid nie, is Sunlight Jr. (16TNS) dalk vir jou. Dié Amerikaanse drama handel oor die supermarkkassiere Melissa (Naomi Watts van The Impossible) en haar verlamde kêrel, Richie (Matt Dillon van There’s Something about Mary), wat finansieel swaarkry. Daar kom ’n bietjie vreugde hulle kant toe toe Melissa uitvind sy is swanger. Maar dan verloor sy haar werk en hulle word uitgeskop uit die motel waar hulle bly.

Die oorgrote meerderheid resensente dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 67 persent op Rotten Tomatoes en hulle bevind: “Dis nie juis opbeurend nie, maar Sunlight Jr. se donker storie word draaglik gemaak deur (die regisseur en skrywer) Laurie Collyer se empatieke draaiboek en sterk vertolkings deur Naomi en Matt.” Robert Denerstein van moviehabit.com voel Laurie verdien lof vir die feit dat sy ’n deel van die Amerikaanse samelewing probeer belig wat gewoonlik nie in flieks aandag geniet nie.

Susan Wloszczyna van rogerebert.com is minder beïndruk en gee dit twee en ’n half sterre. “Collyer gaan heeltemal oorboord met haar uitbeelding van armes se sukkelbestaan, maar sy kry dit tog reg om uit te beeld hoe die siklus van armoede en die gebrek aan geleenthede dikwels van geslag tot geslag oorgedra word,” skryf sy. “Sunlight Jr. werp lig op die feit dat die Amerikaanse droom vir te veel mense slegs ’n droom bly.”

Sandra Visser