’n Lekker fliek vir die hele gesin begin vandeesweek. Die animasie-avontuur Rio 2 (OT) is die opvolg op die 2011-lokettreffer oor ’n bedorwe, mak blou makou, Blu (Jesse Eisenberg van The Social Network se stem), die laaste van sy spesie, wat na Brasilië geneem word om te paar met die laaste wyfie, Jewel (Anne Hathaway van Les Misérables). Ná vele avonture raak dié twee verlief, en nou in die opvolg het hulle ’n kroos van drie. Dié keer word hulle saamgeneem op hul eienaars se ekspedisie na die Amasone, waar hulle Jewel se pa, Eduardo (Andy Garcia van Ocean’s Eleven), raakloop wat saam met die res van sy stam wegkruip. Die bleeksiel Blu sukkel om in te pas, en intussen is die wraaksugtige kokketiel Nigel (Men in Black 3 se Jemaine Clement) ook op hul spoor.

Die meeste resensente dink die fliek is heel skaflik. Dit kry 50 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Hul konsensus is: “Soos die meeste opvolgprente vat Rio 2 sy voorganger se grondliggende idee en probeer dit vergroot – wat beteken dis nog besiger, kleurvoller en eindelik uitputtender vir kykers buite die jeugdige teikenmark.” Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film gee dit albei drie sterre. Eersgenoemde se Angie Errigo skryf dat dit soms voel soos ’n tekenprent-weergawe van Meet the Parents, en dat die los drade van die storie effens onsamehangend is. “Dis ’n uiters ongefokusde, sporadies snaakse fliek wat opgehef word deur voorspelbaar asemrowende beelde,” skryf sy. Total Film se Kate Stables beskryf dit as “ ’n goedhartige opvolgprent met pragtige animasie”.

Liam Neeson (Taken) is weereens die aksieheld in Non-Stop (13GT), ’n riller wat aan boord ’n vlug van New York na Londen afspeel. Tydens die vlug ontvang die Amerikaanse lugmaarskalk Bill Marks (Liam) kriptiese selfoonboodskappe wat aandring dat hy $150 miljoen in ’n bankrekening inbetaal. Tot hy die geld in die hande kry, sal daar elke 20 minute ’n passasier sterf. Die rolverdeling sluit in Julianne Moore (Crazy Stupid Love), Michelle Dockery (lady Mary in Downton Abbey) en Lupita Nyong’o, wat onlangs ’n Oscar gewen het vir haar rol in 12 Years a Slave.

Die meeste resensente dink ook dié fliek is heel skaflik. Dit kry 59 persent op Rotten Tomatoes en 56 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk. Rotten Tomatoes se kommentaar is soos volg: “Liam is ongetwyfeld ’n bate, maar Non-Stop vermors sy akteurs – asook ’n stewige wegspringplek vir ’n storie en ’n spanningsvolle eerste helfte – op ’n swakbeplande storie wat afhanklik is van ’n totaal ongeloofwaardige tweede helfte.” Jason Best van Movie Talk gee dit drie sterre. “Terwyl Neeson probeer uitwerk watter passasier die boodskappe stuur, bereik die fliek stratosferiese hoogtes van belaglikheid, maar die mengsel van speurverhaal, spanning en aksie is baie genotvol,” skryf hy.

Empire se Nick de Semlyen is egter glad nie beïndruk nie en gee die fliek net een ster. “Non-Stop word gekelder deur ’n verskeidenheid uiters vervelige karakters, tesame met die feit dat dit as ’n speurverhaal noodlottig gebrekkig is,” skryf hy. “Die meerderheid van die fliek bestaan uit Neeson wat teksboodskappe op sy selfoon tik terwyl ’n geheimsinnige teenstander hom tart. Soms gebeur die getik in die badkamer; partykeer is daar ’n spelfout en moet hy teruggaan om dit reg te maak. Niks hiervan maak eindelose SMSery enigsins opwindender nie.”

Zac Efron probeer hom as ’n volwasse ster vestig en wegkom van High School Musical met That Awkward Moment (16TS), ’n romantiese komedie oor drie beste pelle. Zac speel Jason wat sopas afgesê is; Mikey (Michael B. Jordan van Chronicle) se vrou, Vera (Jessica Lucas van Cloverfield), wil skei; en Daniel (Miles Teller van Divergent) kan net nie ’n meisie kry nie. Hulle besluit om enkellopend te bly en net pret te hê, maar dan ontmoet Jason Ellie (Imogen Poots van Fright Night), wat dalk net sy trouvrou is; Daniel begin kyk na sy vriendin Chelsea (Mackenzie Davis) met ander oë; en Mikey kan steeds nie van Vera vergeet nie.

Die meeste resensente was nie veel beïndruk met die fliek nie. Dit kry slegs 36 uit 100 op Metacritic en 22 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “voorspelbaar en nie snaaks nie.  That Awkward Moment vermors innemende akteurs op ’n gedwonge komedie wat nie kan kers vashou by die tipiese romantiese komedies waarop dit probeer kommentaar lewer nie.” Adam Markovitz van Rolling Stone gee die fliek ’n C+ . “Die fliek se idees oor verhoudings sal in die 80’s al soos ou nuus gevoel het, en die ‘groot’ onthullings (ouens kan ook verlief raak!) is oppervlakkig genoeg dat jy verlang na die rom-koms van Kate Hudson, wat in vergelyking diepsinnig is,” skryf hy. “Gelukkig is die drie hoofspeler baie charismaties – soveel so dat jy wens hulle is nie vasgevang in so ’n konvensionele, onambisieuse fliek nie.”

James Mottram van Total Film hou baie van die fliek en gee dit vier sterre. Aangesien die meeste romantiese komedies op vroue gemik is is hy veral beïndruk met die feit dat die storie uit die mans se oogpunt vertel word, en dink albei geslagte sal dié vars, romantiese en snaakse fliek geniet.

Net soos Sandra Bullock in Gravity bevind die legendariese akteur Robert Redford (Butch Cassidy and the Sundance Kid) hom alleen op die skerm en besig om te veg vir sy lewe in All Is Lost (10-12OG). Volgens Empire se Chris Hewitt bevat dié fliek nog minder dialoog as Gravity en Robert moet alles met sy oë, gebare en lyftaal oordra. Hy speel ’n man wat alleen op sy seiljag op die oop see is en dan agterkom die boot is besig om te sink. ’n Stryd vir oorlewing volg.

Kritici is mal oor die fliek. Dit kry 93 persent op Rotten Tomatoes wat die volgende bevind: “Geanker deur nog ’n meesterlike vertolking, bied All Is Lost ’n roerende, uiters waardevolle getuigskrif vir Robert se vermoë om jou te boei.” Empire se Chris Hewitt gee dit vyf sterre en beskryf dit as ’n suiwer aksiefliek. “Niks ontplof nie, behalwe ’n opblaasboot, maar alles wat Redford doen, bevat aksie, of dit iets so klein is soos om ’n gat in die boot reg te maak, of iets so dramaties soos om in die see ingespoel te word,” skryf hy. “Hierdie aksie hou ons vasgenael, ten spyte van geen dialoog of agtergrond nie, en dis te danke aan J.C. Chandor se selfversekerde, gestroopte regie en Redford se toneelspel.” Tom Clift van filmink.com.au loof dit as “die meesleurendste verhaal oor gevaar op die oop see sedert Steven Spielberg se Jaws”.

Die Sotho-fliek The Forgotten Kingdom (10-12OT) vertel die verhaal van Atang (Zenzo Ngqobe van die sepie Rhythm City), ’n werklose, rigtinglose jong man van Johannesburg wat teruggaan na die Koninkryk van Lesotho om te voldoen aan sy oorlede pa se laaste wens om daar begrawe te word. Hy voel soos ’n vreemdeling in sy geboorteland, maar dan ontmoet hy weer vir Dineo (Nozipho Nkelemba, ook van Rhythm City), ’n deernisvolle onderwyseres saam met wie hy as kind gespeel het, en kom hy weer in aanraking met tradisies wat hy lank gelede vergeet het.

Laetitia Pople van Die Burger gee die fliek vier sterre en beskryf dit as ’n “seldsame juweel wat sterk kommentaar (lewer) op verstedeliking en die impak daarvan op kultuur. The Forgotten Kingdom is ’n pronkprent in alle opsigte. Dit verdien om wyd gesien te word.” Richard Propes van theindependentcritic.com gee dit ’n A-. “Dis ’n fliek wat lewe, eerlikheid, emosie, sagmoedige humor en soveel meer uitstraal,” skryf hy. “Dis ’n fliek wat ek geniet het en van begin tot einde waardeer het. Dis ’n fliek wat jou aandag hou en jou beter laat voel omdat jy dit gekyk het.”

Dan is daar ook die konsertfliek 12-12-12 (10T). Dis ’n dokumentêr wat handel oor die vertoning wat die oud-Beatle Paul McCartney ten bate van die slagoffers van Orkaan Sandy gereël het. Dit het op 12 Desember 2012 in Madison Square Garden in New York plaasgevind. Die fliek is nie wyd geresenseer nie, en kry 54 uit 100 op Metacritic gebaseer op nege resensies, maar dit behoort vermaaklik te wees om groot name soos Billy Joel, Alicia Keys, die Rolling Stones en Bruce Springsteen almal op een verhoog te sien.

-Sandra Visser