Nog ’n poging om in die voetstappe van die suksesvolle Twilight- en The Hunger Games-reeks te volg word vandeesweek uitgereik. Soos daardie reekse is Divergent (13G) gegrond op ’n reeks gewilde tienerboeke wat fokus op ’n heldin en haar avonture in ’n fantasiewêreld waar sy ook liefde vind.

Soos The Hunger Games speel Divergent af in ’n distopiese toekoms. Ná ’n oorlog bly die oorlewendes in Chicago, waar mense in vyf faksies verdeel is volgens die gawes waaroor hulle beskik. Maar Tris (Shailene Woodley van The Descendants) pas nie in nie. Sy word groot in die onbaatsugtige Abnegation-faksie, maar toe sy getoets word, word daar bevind sy is Divergent en kan by drie faksies inpas. Sy sluit aan by die waaghalsige Dauntless-faksie en word opgelei deur die aantreklike Four (Theo James van Underworld: Awakening). Sy vind uit van ’n sameswering om alle Divergents uit die weg te ruim omdat hulle die stelsel bedreig.

Die fliek kry gemengde reaksie by kritici. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 39 persent. Hulle bevind dat die film “die tienerfliek-formule te nougeset navolg en dit ondergrawe die individualistiese boodskap. Divergent skop dié beplande trilogie af op ’n teleurstellend voorspelbare manier.”

Die Britse filmtydskrifte Total Film en Empire is toegeefliker en gee dit albei drie sterre. Eersgenoemde se James Mottram skryf: “Divergent is getrou aan die boek, maar ook verwelkomend genoeg vir nuwelinge. Dis ’n skaflike maar nie imponerende poging om hierdie distopiese wêreld gestalte te gee en behoort jou aan die gang te hou tot die volgende Hunger Games.” Empire se Helen O’Hara voel dis “slim, sterk en ’n bietjie koel. Dié eerste hoofstuk wek jou belangstelling eerder as wat dit op sy eie voete staan, maar die rolverdeling, veral Woodley, maak dit afleidend genoeg dat dit ’n plek verdien in die geledere van suksesvolle aksie-fliekreekse.”

Noah (13G) is Darren Aronofsky se ambisieusste werk nog. Hou in gedagte dat dié regisseur bekend is vir briljante maar uitmergelende flieks soos Black Swan (2010) en Requiem for a Dream (2000); moet dus nie ’n Sondagskool-storie geskik vir kinders verwag nie. Russell Crowe (Gladiator) vertolk die naamrol in hierdie verwerking van die verhaal uit Genesis. Hy kry ’n visioen van die Skepper wat hom beveel om ’n ark te bou om die diereryk te red van ’n groot vloed wat die mensdom gaan uitwis. Maar die barbaarse koning Tubal-Cain (Ray Winstone van Indiana Jones and the Kingdom of the Crystal Skull) werp alles in die stryd om Noah te keer.

Die meeste resensente is beïndruk met die fliek. Dit kry 76 persent by Rotten Tomatoes, en 67 uit 100 by Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Volgens laasgenoemde “werk Aronofsky se Noah die Bybelse epos vir die 21ste eeu by te danke aan treffende beelde geanker deur sterk toneelspel, wat gebruik word om ’n tydlose verhaal op ’n menslike skaal te vertel”. Empire se Dan Jolin gee die fliek vier sterre en beskryf dit as “vindingryk, ambisieus, brutaal en pragtig: ’n kragtige, mitologiese epos. Dis ook opsetlik uitdagend en sal jou heel moontlik net so woedend maak as wat dit jou inspireer, of dit nou is as gevolg van die ongenaakbare Ou Testamentiese meedoënloosheid of die hersiening van die verhaal om dit ’n eko-boodskap te gee.”

Andrew Pulver van The Guardian gee dit drie sterre. “Al is die meerderheid van die fliek indrukwekkend, vind Aronofsky tog nooit ’n oplossing vir die hoofuitdaging wat alle semi-letterlike Bybelse verwerkings in die gesig staar nie: Die verhaal wat so ekonomies en elegant in teksvorm uitgedruk is, word swaar en lomp toe dit in ’n konvensionele verhaal omskep word,” skryf hy, maar hy voel tog Russell se kragtoer dra die gehoor deur van die verveliger dele.

In die spanningsdrama Hours (10G) vertolk wyle Paul Walker (The Fast and the Furious) een van sy laaste rolle. Hy speel Nolan Hayes, wat in die vroeë oggendure sy vrou, Abigail (Genesis Rodriguez van Man on a Ledge), na ’n New Orleans-hospitaal bring nadat sy begin kraam het. Die geboorte loop tragies skeef en dan slaan Orkaan Katrina toe, wat almal dwing om die hospitaal te ontruim. Die baba kan slegs oorleef deur middel van ’n ventilator en Nolan bly agter om te wag vir ’n ambulans. Maar niemand kom om hulle te red nie, die krag skop af en die water raak ál hoër.

Die meeste kritici dink die fliek is heel goed. Dit kry 55 uit 100 op Metacritic. Total Film se Josh Winning gee dit drie sterre en skryf: “Al is die intrige voorspelbaar, maak Walker die beste van sy eenmanvertoning en lewer van sy bekwaamste spel ooit.” Michael O’ Sullivan van die Washington Post gee dit twee sterre en sê al is die intrige gebaseer op ’n foefie, “werk dit te danke aan Walker se verbasende vermoë om sy karakter se innerlike lewe te verken en te onthul”.

Die misdaaddrama Oldboy (16TNSG) is ’n verwerking deur die Amerikaanse regisseur Spike Lee (Do the Right Thing) van ’n geloofde Suid-Koreaanse fliek. Josh Brolin (Gangster Squad) speel die dronklap Joe Doucett, wat in die advertensiewese werk. Hy is ontvoer en aangehou in ’n vertrek sonder vensters, kommunikasie of verduideliking. Toe hy skielik ná 20 jaar vrygelaat word, probeer hy uitvind hoekom dit met hom gebeur het en soek hy weerwraak teen die skuldiges.

Die fliek kry gemengde reaksie by resensente. Dit kry 42 persent op Rotten Tomatoes en die konsensus is die fliek is “gepas donker en wreed, maar teleurstellend veilig en oppervlakkig. Dit verbeter nie op die oorspronklike nie en voeg niks nuuts by nie.” Empire se James White is positiewer en gee dit drie sterre. “Dis die moeite werd om die fliek te kyk, maar dié wat albei weergawes gesien het, sal baie tyd daaraan bestee om dié twee flieks te vergelyk en sal vind die nuwe weergawe steek af,” skryf hy. Richard Corliss van Time sê die fliek “is ’n getroue samevatting van die oorspronklike. Dis ’n lewendige maar akademiese verwerking: korter, skraler en minder. Die hoofrede om dit te kyk is om Brolin in ’n lywige rol te sien.”

In Out of the Furnace (16TGD), nog ’n misdaaddrama, speel Christian Bale (The Dark Knight Rises) Russell Blaze, ’n werker by ’n staalfabriek wat na sy terminaalsiek pa moet omsien. Toe sy jonger broer, die soldaat Rodney (Casey Affleck van Gone Baby Gone), terugkeer uit Irak, raak hy betrokke by ’n gewetenlose bende en verdwyn. Die polisie kom nêrens met hul ondersoek nie, dus besluit Russell om die gereg in eie hande te neem. Die rolverdeling sluit Woody Harrelson (The Hunger Games) en Zoe Saldana (Star Trek) in.

Die fliek kry 63 uit 100 by Metacritic en 52 persent by Rotten Tomatoes, waar die konsensus is: “terwyl die fliek nie die uitmuntende rolverdeling ten volle benut nie, loop dit so oor van die talent dat dit moeilik is om weg te kyk”. Emma Dibdin van Total Film gee dit drie sterre en sê die fliek se flou storie word gedra deur Christian se emosionele, doeltreffende vertolking. Christy Lemire van christylemire.com gee dit twee en ’n half uit vier sterre en beskryf dit as ’n “wrede wraakstorie wat te danke aan gehalte-akteurs bo ’n grinterige, smerige milieu verhef word”.

As jy lus is vir iets heel anders kan jy dalk Europa Report (10) probeer. Dis ’n wetenskapsfiksieriller wat in die vorm van ’n dokumentêr geskiet is en fokus op ’n sending na Jupiter se maan Europa om moontlike tekens van lewe te ondersoek. Toe ’n onbemande tuig ’n oseaan onder Europa se oppervlak vind wat dalk enkelselorganismes bevat, word ses van die wêreld se beste ruimtevaarders daarheen gestuur om die data te bevestig. District 9 se Sharlto Copley is onder die rolverdeling.

Die fliek kry 80 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “kloustrofobies en stylvol. Europa Report is ’n riller wat stadig vlam vat en die wetenskap terug in wetenskapsfiksie plaas”. Stephen Farber van The Hollywood Reporter skryf: “Die grondliggende verhaal is al baie oorvertel, maar dit word aangrypend verwerk in hierdie gestroopte interpretasie van ’n oorbekende tema, boonop met ’n klein begroting.” Tog is Alan Scherstuhl van villagevoice.com nie veel beïndruk nie. “Eenvoudig gestel, die moeite en sorgsaamheid wat ingesit is om die beeldmateriaal soos ’n ware dokumentêr te laat lyk, is nie toegepas in die fliek se draaiboek of struktuur nie,” skryf hy.

Sandra Visser