Die Mad Max: Fury Road-aktrise het die opwindende nuus Donderdag op Instagram met haar aanhangers gedeel.

Very happy to share that Jason and I are expecting!! Lots of love Rosie x ??? Photo by @jasonstatham

A photo posted by Rosie Huntington-Whiteley (@rosiehw) on

“Baie bly om te deel dat ek en Jason verwag!!” het sy geskryf by ’n foto wat Jason van haar geneem het waar sy in ’n bikini op die strand met haar groot babamagie spog.

Die 29-jarige het verlede maand die eerste keer gerugte laat ontstaan dat sy dalk verwag toe sy ’n foto in die sosiale media plaas wat skynbaar op ’n swangerskap sinspeel. Op die foto het sy, anders as gewoonlik, sakkerige klere aan terwyl sy ’n perd streel.

Daarby het sy die kriptiese boodskap gelaai: “Op nuwe beginne en opwindende vooruitsigte vir die nuwe jaar. Wens almal ’n gelukkige en gesonde 2017 toe.”

Baie aanhangers het Rosie in die kommentaarseksie van die foto gevra of sy swanger is.

Sy en die rolprent-aksieman gaan sedert 2010 uit en het in Januarie verlede jaar verloof geraak.

Albei het voorheen gepraat oor hoe lief hulle mekaar het en Rosie het jare lank gepraat oor haar begeerte om kinders te hê.

“Om ’n gesin te hê is beslis iets waaroor ek dink. En of ek hier in Amerika of in Engeland sal woon (om die kind groot te maak), maar dis nie altyd so eenvoudig nie,” het sy in 2015 aan die Britse tydskrif Express gesê. “Ek het geen idee wat sal gebeur nie, maar dit sal interessant wees om uit te vind, nie waar nie?”

Jason (49), die skurk van Furious 7, het Rosie voorheen daarvoor geloof dat sy sy rots is, en bygevoeg: “Ek dink agter elke suksesvolle man is ’n sterker vrou wat verantwoordelik is vir amper elke goeie ding wat ons doen,” het hy aan Total Film gesê in die tyd toe hy aan die aktrise verloof geraak het.

©Cover Media