Waaroor gaan dit?

Ná die dood van twee macho polisiemanne kry twee bleeksiele skielik kans om gevaarliker sake aan te pak.

Hulle is “die ander manne” wat net altyd agter lessenaars diens doen.

Wie sal hiervan hou?

Enige komediefoendi wat ’n skaduwee gooi!

Dit wil gedoen wees om deesdae ’n komedie te regisseer wat regtig snaaks is en wat ’n mens se lagspiere kielie, maar Adam McKay slaag daarin om hierdie genre te herontwerp en die storie van ’n onpaar paar geregsdienaars nuwe woema te gee.

Wat vir die vierde ster verantwoordelik is, is die oorspronklike en gevatte draaiboek.

Jy weet nooit wat volgende gaan gebeur nie en enige skrywer en regisseur wat die clichés van polisiekomedies so behendig kan herontwerp, verdien sukses.

Ferrell en Wahlberg is die volmaakte komediepaar en net om Wahlberg te sien ballet doen, is die prys van ’n toegangskaartjie werd!

Wag vir DVD?

Nee. As jou maag goor geraak het toe jy gedink het jy gaan in onlangse brutale platvloerse komedies soos Bakgat 2 lag, moet jy jou komediekliere weer inspirasie gee met hierdie splinternuwe soort lagprent met subtiele houding, komediebreinselle en talent.

Dit gaan oor vriendskap en manlikheid, maar stuur albei hemelhoog op sonder om dit ooit te verkleineer of walglik te raak.

Daar is ook nie sprake van oordrywing of komiese anargie nie, slegs vindingryke, intelligente kwinkslae, skreeusnaakse situasies en komiese vonke wat spat! Gaan kyk en wees verras.

Soortgelyke flieks

48 Hours, Grown Ups, Date Night.

Springmielie-feite

*Die rol van Highsmith is eintlik vir Michael Chiklis geskryf, maar hy het die rol geweier, toe kry Samuel L. Jackson dit.

*Mark Wahlberg, die jongste van nege, het die skool verlaat op 14. Hy het in die tronk beland en begin oefen – en met ’n gespierde lyf uitgestap.

Komedie.

Met Will Ferrell, Mark Wahlberg en Samuel L. Jackson.

Regie: Adam McKay.

13MTG.

Begin op 24 September.

Ons dink: 4/5