Drama.

Met Paul Loots, Andrew Thompson en Rika Sennett.

Regisseur: Paul Eilers.

16VTS.

Begin op 20 Mei.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

’n Spoorweggemeenskap in Durban se lewens word omvergewerp met die dood van H.F. Verwoerd, en ’n seuntjie verloor sy onskuld.

Wie sal hiervan hou?

Enigiemand wat trots voel om Afrikaans te wees en wat glo die Afrikaanse rolprent moet besin oor waarheen hy op pad is.

Met hierdie briljante en veelvlakkige toevoeging tot die Afrikaanse rolprentbedryf waag ’n regisseur en draaiboekskrywers dit om ’n (Suid-) Afrikaanse werklikheid te ontbloot soos Jans Rautenbach laas gedoen het.

Konserwatisme, preutsheid, engheid, godsdienstige vooroordele en klasseverskille word oopkop aangevat sonder om karakters te ver­”kommin”, verlaag of te stereotipeer.

Dit tel in Paul Eilers se guns dat hy die Afrikaner met al sy foute, tekortkominge maar ook innerlike goedheid op verskeie vlakke en in skakerings uitbeeld in hierdie prent wat eintlik ’n mikrokosmos van Suid-Afrika in die 60’s is.

Moraliteit, sosiaal-ekonomiese probleme en ’n vrees vir die toekoms word met insig uitgebeeld.

Daar is woeste tonele wat kan skok, maar dis tyd dat die sondes, skades en vergrype van die verlede simpatiek ontbloot word.

Jy het nie sedert Die Kandidaat ’n Afrikaanse rolprent gesien wat so in die kol is oor ’n volk se siel, sy tekortkominge en menslikheid nie.

In die bui vir ’n omstrede, briljante werk waarin niemand sing of waar sangers probeer toneelspeel nie?

Dan behoort jy besiel hier uit te stap. Gaan kyk. Dit ontsenu, maar dis nódig en vernuftig.

Soortgelyke flieks

Die Kandidaat, Katrina, Die Storie van Klara Viljee.

Springmieliefeite

*Die vervaardigers moes Blomstraat in Springs herbou en restoureer om ’n spoorweggemeen-skap uit die 60’s raak uit te beeld.

*Paul Eilers was eers ’n akteur, TV-aanbieder, radioregisseur en omroeper voor hy hierdie rolprent, sy eerste as regisseur, gemaak het.

*Paul Loots is ná deeglike oudisies uit honderde seuns gekies om die hoofrol van Timus te speel.