’n Rolprentmaker wat vroeër vanjaar woede ontlok het met sy planne vir ’n liefdesdriehoekdrama oor die vliegtuig van die Maleisiese lugredery wat vermis geraak het, sê hy gaan die intrige in ’n riller verander sodat hy nie die naasbestaandes van die vermistes aanstoot gee nie.

Die regisseur Rupesh Paul het vroeër vanjaar ’n kort lokprent, The Vanishing Act, op die Cannes-rolprentfees laat draai. Dit is gegrond op die vliegtuig se verdwyning. Dit het in Maart onderweg van Kuala Lumpur na Beijing met 239 mense aan boord vermis geraak.

In die lokprent was beeldmateriaal van ’n vuurwapen en twee bemanningslede wat soen terwyl ’n derde woedend toekyk. Dit het mense woedend gemaak en Rupesh moes agterna verskoning vra aan die naasbestaandes van die vermiste passasiers.

Hy het vandeesweek in ’n verklaring aan Associated Press gesê hy verfilm ’n nuwe lokprent vir ’n sielkundige riller.

“Ons respekteer die gevoelens van almal wat ’n verlies weens die tragedie gely het, en die bedoeling was nooit om voordeel daaruit te trek nie,” het die Indiese regisseur gesê.

“Ek is ’n rolprentvervaardiger en wil graag die rolprent losweg grond op een van die verstommendste raaisels.”

Die fliek sou vanjaar uitgereik word, maar die assistent-regisseur Sritama Dutta sê die verandering aan die intrige het die uitreiking vertraag.

- Sapa

Hulle sal die rolverdeling na verwagting voor einde vandeesmaand aanstel; die verfilming begin in Januarie. Die vervaardigers hoop om die fliek volgende jaar op die Cannes-rolprentfees te vertoon.