OP televisie was sy die bitsige vrou van staal wat altyd sonder enige simpatie vir ’n deelnemer oor daardie swartraambril geloer en smalend verklaar het: “You are the Weakest Link . . . Goodbye!”

Maar die 45-jarige Fiona Coyne het self nie al die antwoorde op die lewensvrae gehad nie. Pynlik en presies, soos hierdie bekroonde dramaturg, aktrise en TV-aanbieder was, het sy nou die wêreld gegroet.

Op Woensdag 18 Augustus is sy dood in haar bed in haar huis in Vishoek in die Kaap aangetref nadat sy haarself die vorige aand om die lewe gebring het.

Dit het haar verbysterde aanhangers oor haar eie swakste skakel of dan grootste kwesbaarheid laat wonder.

Nee, dit was toe nie sjampanje nie. Ook nie mooi skoene of vliegritte nie . . . Al hierdie dinge het haar net plesier gebring.

Die raaisel waarom hierdie lewenslustige en dinamiese rooikop nie meer vir die lewe kans gesien het nie, kan dalk deur ’n Kaapse advokaat ontsluit word. By haar roudiens het hy bitterlik gehuil en toe hy uitstap, het dit gelyk of hy inmekaar gaan sak.

Al wat die gebroke Richard Goodman later kon sê, is: “Ek het haar lief. Ek het haar innig lief,” maar hy was te hartseer om verder te praat.

Die sowat 150 vriende en familielede wat die diens by die St. Peters Katolieke Kerk in die Strand bygewoon het, was verslae en stomgeslaan dat hul “Fi” nie meer wou leef nie.

Min het van Richard geweet en haar ma, Dolly, en broer Charles, wat in die Kaap woon, het hom nooit tevore ontmoet nie. Haar broer Bruce wat baie na aan haar was, was nie by die diens nie, maar het ook net van hom geweet.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 September 2010