Dis goed en wel om beroemd te wees, maar hoeveel beroemdes het regtig invloed? As dit van Amerikaners afhang, is dit die mense wat rolprente maak, wat veral invloedryk is. Steven se film oor een van Amerika se bekendste presidente, Lincoln, het 12 Oscar-benoemings gekry, twee van dié goue beeldjies gewen, en ook meer as R3 miljard ingebring.

Volgens Forbes se meningsopname het Steven ’n punt van 47 behaal vir invloed, wat beteken 47 persent van Amerikaners dink hy is invloedryk.  Hy het die kletskoningin Oprah Winfrey onttroon. Oprah is nou tweede op die lys met 45.

Dis interessant dat die ander drie lede van Forbes se topvyf ook filmregisseurs is. Die Star Wars-rolprente is dalk al lank in die land, maar geniet vandag nog soveel aanhang dat die regisseur George Lucas derde is. Die volgende Star Wars-prent word na verwagting in 2015 uitgereik.

Vierde op die lys is Ron Howard, die regisseur van flieks soos A Beautiful Mind en Frost/Nixon. Sy mees onlangse prent is Rush, wat verlede jaar uitgereik is.

Martin Scorsese is vyfde op die Forbes-lys. Sy The Wolf of Wall Street laat op die oomblik fliekgangers gons. Ander Scorsese-rolprente is onder meer The Aviator, Gangs of New York en The Departed.

Bronne: Forbes. Com, Reuters.com, upi.com