Dis nie ’n advertensie wat jou dadelik tref nie – tot jy die woorde begin lees en besef presies hoe voor op die wa dit is.

Kulula is bekend vir hul pittige reklame, maar dié keer het die laekoste-lugdiens hulself oortref. Sonder om die woorde

‘‘Wêreldbeker’’ of ‘‘sokker’’ te gebruik, verklaar Kulula dat hulle die “nie-amptelike nasionale lugredery’’ van die ‘‘jy-weet-wat’’ is.

Verskeie simbole maak dit duidelik die advertensie sinspeel op vanjaar se Fifa-wêreldbekertoernooi, soos sketse van sokkerballe, ’n sokkerspeler, vuvuzelas en die Kaapstad-stadion.

Maar ewe kamma onskuldig staan daar by die vuvuzela-sketse dié goed ‘‘rym nie met booboofela nie’’, en by die sokkerballe “nie sokkerballe nie’’.

Die Kaapstad-stadion ‘‘is nie ’n stadion nie, net ’n groot, nuwe sjoe-maar-dis-’n-mooi-plek’’.

En die sokkerspeler is nie besig om ’n bal te skop nie, maar “hy strek sy been agtertoe vir ’n dansbeweging’’.

Dit was nie lank nie of die draak wie se stert Kulula getrek het met dié veldtog, kap terug – en die sokkerbeheerliggaam Fifa se regsmense stuur ’n brief aan Kulula wat hulle beskuldig van hinderlaagbemarking. Kulula

is nie ’n amptelike borg van die Wêreldbeker nie en hulle mag op géén manier na die toernooi verwys in hul reklame

nie, lui Fifa se kwaai brief.

Net Emirates, Fifa se amptelike lugdiens, mag vanjaar Wêreldbekersimbole gebruik in hul reklame.

En wat maak Kulula toe? Hulle onttrek dadelik die advertensie – en vervang dit met ’n nóg snaakser weergawe.

Lees meer hieroor in die uitgawe van 8 April. En wat dink jy van Fifa se streng reels? Gee jou mening in die kommentaarveld hieronder.

Bespreek vir Skouspel!