Die fietsryer moet een van die gelukkigste mense op aarde wees want oënskynlik buiten skok en en ’n effense verleë uitdrukking op sy gesig, het hy sover bekend geen beserings opgedoen nie.

Nicol van der Walt het so pas sy suster in Silverlakes afgelaai toe hy die spektakel gewaar het. Die fietsryer het op die skouer van die pad gery, maar sy fietsrybaadjie het verstrengel geraak in ’n stuk yster wat aan die agterkant van die vragmotor uitgesteek het.

Dit het hom skoon van sy fiets afgetrek en hy is deur die vragmotor voortgesleep.

“Dit het gelyk asof die vragmotorbestuurder onbewus was van wat gebeur het, hy het net aanhou ry,” het Nicol gesê.

Die fietsryer het intussen met mag en mening aan die vragmotor vasgehou en sy bene opgetrek om te keer dat hy op die ontoegeeflike geteerde oppervlakte voortgesleep word.

Verskeie motoriste het tevergeefs die vragmotorbestuurder se aandag probeer trek deur vir hom te toet. Dit was eers toe een reg voor die vragmotor ingetrek het en hom forseer het om te stop, dat daar ’n einde aan die fietsryer se nagmerrie-ervaring gekom het.

“Die oomblik toe die vragmotor tot stilstand gekom het, het die fietsryer hom van die vragmotor losgewoel.” ?

Bron: news24.com