andrew-ferg

Sarah Ferguson het haar eksman as “die beste man in die wêreld” beskryf toe sy vir die eerste keer nadat die bewerings teen die hertog van York opgeduik het met die media gepraat het.

Die hertog het huis toe gevlieg met ’n privaat straler van ’n ski-oord in Verbier, Switserland, kort ná die bewerings in hofdokumente in Amerika.

Die hertogin (55), wat saam met die hertog en hul dogter, prinses Eugenie, met vakansie was, het in Verbier agtergebly en het daar met verslaggewers gepraat toe sy op pad was om in die berge te gaan stap. Toe sy gevra is of sy by die hertog staan, het sy geantwoord: “Die York-familie is ’n hegte eenheid. Ons was nog altyd. “Hy is die beste man wat daar is. Dit was die mees fantastiese oomblik van my lewe toe ek in 1986 met hom getroud is.

'Hy is ’n wonderlike man, die beste in die wêreld.'

“Hy is ’n wonderlike man, die beste in die wêreld.”

Die hertog (54) was na bewering dié dag by die Royal Lodge, die huis in Windsor Great Park wat hy met die hertogin deel.

Buckingham-paleis het die afgelope dae twee keer die vrou se bewerings ontken.

Die paleis het “nadruklik ontken” dat die hertog seksuele kontak gehad het met die vrou, wie se naam volgens berigte Virginia Roberts is.

’n Woordvoerder van Buckingham-paleis het volgehou “enige insinuasie van onbetaamlikheid met minderjariges” is “beslis onwaar”.