Omstredenheid volg Sarah Ferguson al jare lank.

Eers was Fergie, gewese vrou van Brittanje se prins Andrew, mediakos bloot oor haar swak kleresmaak, haar alewige stryd teen die vetrolle, haar lomp houding en ... sê dit maar, daardie effense kommingeit waaraan die neus-in-dielug- koninklikes maar swaar moes sluk.

Toe kom die skandale – ’n buite-egtelike verhouding, die egskeiding, die veelbesproke toonsuigery, haar benarde geldelike situasie. En nou het die hertogin van York pas weer so diep in die dinges getrap dat die see haar nie sal kan afwas nie.

Die vrou, alewig platsak, het haar sowaar in ’n omkooptransaksie begewe waarin sy haar invloed by prins Andrew vir miljoene rande probeer verkoop – en daarmee beland sy toe netjies in die strik wat ’n poniekoerant vir haar gestel het.

Die koerant News of the World se joernalis Mazher Mahmood het hom as ’n skatryk sjeik voorgedoen en ’n transaksie van £500 000 (sowat R5,8 miljoen) met ’n desperate Fergie beklink om toutjies trek om hom toegang tot Andrew te verseker.