Sarah Ferguson het belowe om meer aktief op Twitter te wees.

Die hertogin van York het haar 70 000 Twitter-volgelinge op 15 Oktober, op haar 54ste verjaardag, vir hul gelukwensinge bedank. Sy het toe ook belowe om in die toekoms meer te twiet.

Sy het geskryf: “Dankie aan al my liewe volgelinge wat my gelukgewens het. Ek is diep geraak en hoop om weer meer gereeld te twiet.”

Sarah het net 431 twiets geskryf sedert sy langer as ’n jaar gelede by Twitter aangesluit het. Sy het die blad slim benut om haar liefdadigheidswerk te bevorder en haar familie te prys.

Die hertogin was vroeër vanjaar vol lof vir haar eksman, prins Andrew (53), wat in Julie by Twitter aangesluit het. Sy het hom geloof vir die werk wat hy as verteenwoordiger van die Britse koningshuis oorsee doen.

Sy het geskryf: “Ek is so trots op prins Andrew, die hertog van York, omdat hy ’n uitmergelende reis na Indië suksesvol afgehandel het. Groot Brittanje moet weet van sy toewyding en harde werk vir sy land! Gister het SKH die Steen van Herinnering in Kohima besoek om ’n krans te lê vir al die oorlogslagoffers. Die hertog was gewild in Indië en het so ’n indruk namens die Verenigde Koninkryk gemaak. Indië is gaande oor hom.”

Sarah het verlede jaar getwiet hoe trots sy was op haar en Andrew se dogter Beatrice (25), toe dié haar honneursgraad in geskiedenis behaal het. Hul dogter Eugenie is 23.