Baie Suid-Afrikaners is bewus van die skrikwekkende toename in renosterstropery. Maar het jy al ooit gewonder wat gebeur met die renosterkalfies wie se ouers wreed dood gemaak word? Hulle moet weeshuis toe. En dis vir dié weeskalfies wat die New Holland Rhino Run geld wil insamel. “Dit is so lekker om op ’n manier ’n verskil te probeer maak,” het die voormalige Big Brother-wenner Ferdinand Rabie by die bekendstelling van die Rhino Run by die V&A Waterfront in Kaapstad gesê. “Ons moet ons deel doen om te keer dat die renoster uitsterf.” ’n New Holland-trekker gaan oor ’n tydperk van 36 dae van Kaapstad tot by Entabeni, Mookgopong, ry: 3 000 km gaan afgelê word en elkeen van dié kilometers word teen R100 verkoop om geld in te samel. Ferdinand en verteenwoordigers van New Holland, Vlam Barnard en Jacques du Plessis, gaan elke dag 30 minute voor die trekker op fietse wegspring en kyk hoe ver hulle kan ry voor die trekker hul inhaal. Langs die pad gaan aanbiedings by skole en op die verskillende dorpe gedoen word om groter bewustheid te skep en om geld vir The Rhino Orphanage in te samel.

The Rhino Orphanage is die eerste van sy soort: dis ’n gespesialiseerde, nie-kommersiële sentrum wat vir renosterkalfies sorg. Dit is geleë by die Wild- en Kulturele Sentrum by die Legend-gholf-en-safari-oord in Limpopo. By die bekendstelling van die Rhino Run het Arrie van Deventer, die sentrumdirekteur, aan gaste en borge verduidelik hoe duur dit is om een kalfie te onderhou: “Dit kos ons omtrent R30 000 per maand per kalfie.” Daar is op die oomblik 12 weeskalfies by die sentrum.

Jy kan ook help. SMS RHINO na 49100 om R15 aan The Rhino Orphanage te skenk.

Lees hier meer oor die New Holland Rhino Run: http://nhrhinorun.com

- Suzaan Hauman