Felix het ook ’n kontantprys van R100 000 op die 36ste Lucas Internasionale Rolprentfees gewen.

Dié fees vereer flieks wat op jong kykers gemik is en vier kinders dien in die paneel wat oor die pryse besluit. Sowat 400 inskrywings is in 2013 ontvang.

Felix handel oor ’n seun uit ’n krotbuurt wat daarvan droom om in sy musikant-pa se voetspore as ’n jazzmusikant te volg.

Robert Durrant, Felix se regisseur, is oorstelp deur dié eerbewys. “Ons het twee ongelooflike vertonings by Lucas gehad; die gehoor het ons staande toegejuig en gefluit,” het Robert aan channel24.com gesê. “Die gehoor was dol oor die fliek, maar ek het nie verwag ons sou die hoofprys ontvang nie omdat die mededinging so kwaai was.”

Die beoordelaars sê Felix bied ’n veelkantige blik op die hedendaagse lewe in Suid-Afrika. “Die fliek vertel’n vermaaklike en opwindende verhaal, boonop met uitstekende akteurs en goeie musiek.”

Felix sal ook binnekort op die Hamburgse Rolprentfees, Londen se BFI-rolprentfees en die Vancouver Internasionale Rolprentfees vertoon word.

Hier is ’n voorsmakie van Felix: