Regter Hennie de Vos het Donderdagmiddag in die Vereeniging-hof uitspraak gelewer oor die toelaatbaarheid van Fanie du Preez se bekentenis.

Fanie word daarvan aangekla dat hy sy vrou en twee kinders op Donderdag, 3 Desember 2015 in die vroeë oggendure in hul huis in Vanderbijlpark doodgeskiet het.

Hy het Donderdag sonder voetboeie in die hof verskyn.

Die hof het destyds gehoor Fanie het die polisie drie verskillende weergawes gegee van die gebeure daardie aand.

Hy het ook vroeër vandeesweek getuig hy was nie by sy “volle positiewe” toe hy die veelbesproke bekentenis aan landdros Lourens gemaak het nie. Donderdagmiddag het die regter gelas Fanie se getuienis was daarop gemik om a.o. Alberts “te beswadder”.

Die regter het verder gesê Fanie het ’n storie uitgedink met die doel om op borgtog vrygelaat te word.

Fanie se getuienis in die binneverhoor is voorts verwerp. Die dokument sal nou as ’n verklaring gebruik word en nie as ’n bekentenis nie.