Opspraakwekkende getuienis wat Maandag in die Vereeniging-hof aangehoor is, dui op die moontlikheid dat Philip (14) waarskynlik in die loop van die pistool moes vaskyk voordat hy vermoedelik doodgeskiet is. So het kaptein Joe van Heerden, 'n ballistiese deskundige van die forensiese afdeling en veteraan met 20 jaar diens in die polisiemag getuig. Luidens berigte het dié moontlikheid skokgolwe deur die familielede in die hof teenwoordig, gestuur.

Daar is twee .38-koeëls in Philip se kamer gevind: een het deur die kopstuk van die bed die muur binnegedring, die ander die bedkassie. Philip het gesterf nadat hy met 'n 9 mm-pistool geskiet is.
Verdere ontstellende getuienis dui daarop dat daar moontlik 'n worsteling tussen die 14-jarige en die skieter kon wees voordat hy doodgeskiet is.
Die skoot uit die 9 mm-pistool het hom egter oombliklik gedood. Daar was nie 'n knaldemper aan die pistool geheg nie. Die knaldemper waarna hier verwys word, is die oliefilter wat in 'n tuisgemaakte knaldemper omskep is. Dit sou makliker wees om die rewolwer aan die knaldemper te heg as die pistool.
Kaptein van Heerden het aangedui dat die skoot uit die 9 mm-pistool hard genoeg sou wees dat iemand in die huis dit sou hoor. Dit was vermoedelik wat Carlia wakker gemaak het.

Daar is drie koeëlgate in Carlia se bed gevind. Die basis van die bed en hout is getref. 'n .38-koeëlpunt is uit die bed se bases verwyder. Hy het voorts aangedui dat die skieter sowat 54 cm van Carlia sou wees en dat die persoon moontlik op sy knieë op die bed was toe die skote gevuur is. Een van die skote word positief verbind met die .38-rewolwer. Carlia is deur beide die pistool en rewolwer geskiet. Daar word vermoed dat die wit materiaal wat in haar hand waarmee sy gekeer het, gevind is, van 'n duvet of laken afkomstig is. Sy is ses keer geskiet. Lees ook: ‘Nee, Pappa, nee!’ – voor pa dogter ‘ses keer skiet’ Du Preez se vrou, Thea, is na bewering eerste met die rewolwer geskiet. Daarna Philip gevolg deur Carlia. In beide die kinders se aanval is die rewolwer én pistool ingespan.

Lees ook: ‘Sy’t hom elke keer vergewe’ – toe skiet hy haar en kinders dood Fanie du Preez (40) van Vanderbijlpark word daarvan aangekla dat hy sy vrou, dogter en seun vermoor het. Verskeie van die voorgenome 22 getuies het reeds sedert die aanvang van die saak op 10 Oktober in die hof in Vereeniging getuig.