Vroeëre berigte het daarop gedui dat twee mense gesterf het tydens ’n skietvoorval by ’n winkelsentrum in Pretoria-Oos.

Kapt. Ilze Jones van Garsfontein-polisie het Vrydagmiddag bevestig dat die liggame van ’n man (34) en ’n vrou (64) met skietwonde gevind is.

Die man was na bewering die vrou se stiefskoonseun. ’n Familievete het moontlik tot die tragedie gelei.

Kapt. Jones het luidens berigte ook genoem dat die naburige winkelbestuurder nie skote gehoor het nie. Dit mag beteken dat die voorval in hierdie stadium enige tyd tussen Donderdagaand en vroeg Vrydagoggend kon plaasgevind het.

Werknemers van die onderklerewinkel in die Glenfair-winkelsentrum, Barclay & Clegg, het Vrydagoggend met hul aankoms gevind die winkel is gesluit en die sleutel was in die deur.

Nog ’n winkelbestuurder, wat verkies om anoniem te bly, het glo Donderdagmiddag laas die vrou gesien. Sy het na bewering uitgesien na ’n wegbreek saam met ’n geliefde.

Daar is na bewering ’n rewolwer op die toneel gevind wat aan die man behoort het.

Bronne: netwerk24.com, citizen.co.za