Dit is presies wat gebeur het toe die 18-jarige Lisa Miller van Skotland vroeër verlede maand (September) die ja-woord vir ‘n ouer man gevra het.

Wel, ‘n héélwat ouer man, want op 60-jarige ouderdom kon Jim Kerr haar oupa gewees het. Boonop was Jim die opsigter by die Woodfarm High School waar Lisa twee jaar van te vore nog ‘n leerder was.

Nou gons dit behoorlik onder inwoners van die Skotse distrik East Renfrewshire oor dié ongewone verhouding wat blykbaar aangevuur is deur ‘n “Happy Meal”-wegneemete van die kitskosrestaurant Mc Donald’s. Lees ook: Gr. 5-meisie skryf streng lys van ‘reëls’ aan seun wat op haar verlief is Na dié ete, wat sy spesiaal vir haar geliefde vir sy verjaarsdag gekoop het, het hulle intiem verkeer, het sy aan die Britse koerant The Sun vertel. “Dit was my eerste keer maar daar was geen druk nie. Alles was baie gemaklik.” Die twee vertel hulle is sedert November verlede jaar reeds ‘n paartjie.

Jim, wat sy vrou van 36-jaar  vir die jongeling verlaat het, is ook sy opsigterspos in Maartmaand kwyt nadat hy afgedank is toe sy en Lisa se verhouding op die lappe gekom het.

Maar volgens Lisa en Jim het hulle mekaar nie geken in die tydperk toe sy nog by die skool was nie, maar eers verlede jaar toevallig by ‘n gemeenskapsaal ontmoet.

Hulle het begin gesels en kort voor lank het die liefdesvlam hoog gebrand.

Lees ook: Vrou laat neem skouspelagtige verlowingsfoto’s – al het haar verloofde haar gelos!

Marion Kerr (58) het aan die Sunday Mail vertel sy is verpletter deur haar man se affair. Sy dogter, Allison, het gesê hul familie wil niks meer met hom te doen hê nie.

Die radiostasie West FM het Lisa se huweliksaansoek aan Jim op video vasgelê en op sosiale media versprei.

In die video sê Lisa: “Jim, ons gaan nou al amper ‘n jaar uit en ek is so lief vir jou. Ek sal jou vir niks in die wêreld verruil nie. Trou met my asseblief.”

Dan glimlag Jim en antwoord: “Ja, beslis.”

Bronne:The Sun, MailOnline, Sunday Mail