Johan van Wyk, woordvoerder vir die Pistorius-familie het Donderdagmiddag aan Huisgenoot bevestig dat die vrou van Oscar se oom Arnold, Lois (59), tuis deur rowers oorval is.

Haar huiswerker en die sekuriteitswag aan diens is volgens berigte terselfdertyd deur twee ander gewapende mans aangehou.

Die voorval het by die Pistorius-huis in Waterkloof plaasgevind waar Oscar gebly het tot waar hy na vonnisoplegging na die Kgosi Mampuru-gevangenis gestuur is.

Na wat berig word is Lois by haar motorhuis oorval nadat sy in die namiddag van ’n inkopietog teruggekeer het huis toe. Johan het aan Huisgenoot gesê sy was besig om te wag vir die motorhuisdeur om oop te gaan toe die rowers toegeslaan het.

[caption id="attachment_157181" align="aligncenter" width="600"]Arnold en Lois Pistorius, Oscar se oom en tante, by sy verhoor op 7 April 2014. (Foto: Deaan Vivier/Media24/Sapa) Arnold en Lois Pistorius, Oscar se oom en tante, by sy verhoor op 7 April 2014. (Foto: Deaan Vivier/Media24/Sapa)[/caption]

Een van die rowers het haar gedreig en haar juweliersware geëis.

Hy het haar handsak, wat links voor op die passasiersitplek was, geneem.

Twee van sy gewapende makkers het na bewering terselfdertyd haar huiswerker en die sekuriteitswag in die erf aangehou.

Die drietal het glo na die rooftog met hul buit in ’n wagtende motor gevlug. Lois se selfoon is na bewering by die Fonteine-sirkel gevind.

Volgens kaptein Mavela Masondo bestaan daar die moontlikheid dat Lois na hul huis agtergevolg is.

Bykomende bron: citizen.co.za