Hierdie is nie ’n alledaagse opskrif nie. Net soos dit die allerlaaste ding was wat ’n familie sou verwag.

Want sien, hulle het in Desember afskeid geneem van die man, nou in sy 30’s, wat toe na bewering in sy voertuig doodgebrand het. Hy is sedertdien dood verklaar.

Vriende en familie het treffende huldeblyke en roerende herinnerings op die onbekende “dooie” man se Facebook-blad gedeel. Hulle het geglo dit was hul kosbare vriend se lyk wat in die uitgebrande motorwrak gevind is.

Kan jy jou dus die familie se skok voorstel toe hulle vandag in Krugersdorp agterkom niks is soos hulle verwag het nie.

Dit was tot die lang arm van die gereg hom op Sondag 26 Junie in hegtenis geneem het. Hy was duidelik nie ’n besoeker uit die hiernamaals nie.

Die lang, bebaarde man het op 28 Junie in die Krugersdorpse landdroshof verskyn. Die staat wou nie veel bekend maak oor sy inhegtenisneming of kamma-dood nie, maar het versoek dat “Lasarus” vir eers nog in die selle aangehou word.

Hy sal op 6 Julie weer verskyn. Dit is onbekend hoeveel van die huldeblyke nog op sy Facebook-blad sal “voortleef”.

Bron: krugersdorpnews.com