Francois Treptow is byna tien jaar gelede as 25-jarige in ’n motorongeluk oorlede. Toe sy ouers op 28 Augustus by sy graf aankom, het hulle dadelik opgemerk iets is fout.

[caption id="attachment_137533" align="alignnone" width="450"]Die netjiese graf van  Francois voordat dit verkeerdelik opgegrawe is. Foto: Verskaf Die netjiese graf van Francois voordat dit verkeerdelik opgegrawe is. Foto: Verskaf[/caption]

Die graf was onnet, die mooi potplant en versierings was uit hul plek en daar was tekens van onlangse opgrawings.

Robert Treptow het soos met alle besoeke aan sy seun se graf eers gaan blomme koop. Maar toe hy by die graf kom, het dit gelyk asof dit byna ineenstort.

Sy vrou, Susan, sê: “Ek kan jou nie vertel wat deur my gedagtes gegaan het nie. Dit het soos ’n inbreuk op my privaatheid gevoel, soos wanneer hulle by jou huis inbreek.”

[caption id="attachment_137534" align="alignnone" width="450"]Die gesin was geskok om Francois se geskende graf aan te tref. Foto: Verskaf Die gesin was geskok om Francois se geskende graf aan te tref. Foto: Verskaf[/caption]

Volgens Robert was die graf duidelik oopgemaak en toe gedeeltelik gevul sodat dit gelyk het asof dit ineensak.

Die paartjie het eers die ergste vermoed en gevrees die graf is dalk vir moetie opgegrawe, maar werkers by die bregraafplaas het aangevoer die begrafnisondernemer het ’n fout begaan wat gelei het dat Francois se graf versteur is.

Ná verdere ondersoek het Ramón Collins, algemene bestuurder van Martin’s Begrafnisondernemers, bevestig die fout lê by die begraafplaaswerkers en nie by die ondernemers nie.

Daar was onlangs ’n begrafnis van ’n vrou wat saam met haar man in sy bestaande graf begrawe moes word. Die gesin het die inligting so aan die werkers by die begraafplaas deurgegee. Eers op die dag van begrafnis het die oorlede vrou se familie ontdek Francois se graf is heropen, pleks van haar man s’n.

[caption id="attachment_137535" align="alignnone" width="600"]Die paartjie het eers die ergste vermoed en gevrees die graf is dalk vir moetie opgegrawe. Foto: Verskaf Die paartjie het eers die ergste vermoed en gevrees die graf is dalk vir moetie opgegrawe. Foto: Verskaf[/caption]

“Die kantoorpersoneel is toe geroep en gevra om die regte graf te open en die verkeerde een toe te maak,” verduidelik Ramón in ’n e-pos aan Huisgenoot.

Ramon meen so iets kan net op twee maniere gebeur: óf die begraafplaaspersoneel het nie die regte grafperseel uitgeken nie óf hul rekords oor die grafpersele is verkeerd.

Hierdie is nie ’n isoleerde voorval nie en gebeur volgens Ramón ’n paar keer per jaar.

Leon van Zyl van die parke afdeling van Mogale City het by navraag enige kommentaar na die woordvoerder verwys. Hy het wel bevestig dat die graf hierdie week herstel sal word.

Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit ook self ondersoek sal instel.