Die polisiewoordvoerder kapt. Kay Makhubele het aan News24 gesê die saak word ondersoek.

“Ons het die saak van ’n geregtelike doodsondersoek na moord verander en ons versoek enigiemand met inligting om na vore te kom,” het hy gesê.

Yende (29) is Saterdag ter ruste gelê.

Die familie se woordvoerder, Mboneni Yende, sê: “Ons het geen woorde om te verduidelik hoe ons voel nie. Thembisile het aanhou kla oor haar veiligheid. Nou het dit so ver gegaan dat sy moes sterf sodat Eskom sy oë kan oopmaak.”

Haar lyk is op die oggend van 27 Mei in ’n kantoor by Eskom se afgeleë Pieterboth-substasie in Springs gevind. Sy was 10 dae dood voor haar lyk gevind is nadat werknemers ’n reuk uit die gang naby haar kantoor aangemeld het.

Toe Eskom gevra is waarom niemand in die kantore agtergekom het die deur bly so lank gesluit nie, het Eskom se nasionale woordvoerder, Khulu Phasiwe, gesê: “Dit is ’n afgeleë perseel met klein kantore.

“Dit is buite Springs. Dis is nie soos gewone kantore nie. Daar kom nie elke dag mense in en uit nie.”

Die kringtelevisiekamera het haar met haar aankoms bespeur, maar ’n paar oomblikke later het die stelsel geen beweging meer opgetel nie, het hy gesê.

Bronne: news24.com, ewn.co.za

- Saamgestel deur Annelene Oberholzer