Dennis Haynes se ma, Rina Smit (nou 78), het haar 22-jarige seun een oggend in Februarie 1986 op die N1 buite Bloemfontein gaan  aflaai sodat hy ’n saamrygeleentheid kon kry vir werkonderhoud in Roodepoort. Hy was veronderstel om  binne ’n week of twee terug te wees, maar dit het nooit gebeur nie. 

“Dis moeilik vir my ma,” sê Desireè Haynes. “Sy aanvaar hy is waarskynlik oorlede, maar 'n mens sal net wil weet hoe, wat en waar. Hulle was baie na aan mekaar; hy was haar oogappel.”

Rina het haar seun by die polisie as vermis aangemeld, maar hulle kon geen spoor van hom kry nie. In 2013 het sy weer ’n saak gemaak nadat die polisie geen rekord van die oorspronklike een kon kry nie, maar tot op hede het dit ook geen vrugte afgewerp nie.

Ten tyde van sy verdwyning was Dennis met Hester (nou Van der Walt) getroud en die pa van ’n tweejarige dogter, Angelique van der Walt. Sy het intussen haar stiefpa se van aangeneem. 

Dennis is al vir die afgelope 30 jaar vermis.

Desireè het met die hulp van ’n vriendin, Nadine Smal, by polisiekantore tussen Bloemfontein en Roodepoort aangedoen om deur die ou staatslykshuisregisters te soek na ’n ongeïdentifiseerde en onopgeëiste lyk, maar kon niks vind nie.

Sy is ook in die proses om haar DNS-profiel te laat ontleed sodat hulle op die polisie se slagoffer-identifikasie-eenheid se databasis kan kyk of Dennis se lyk nie al opgespoor is nie.

Toe hulle in 2013 besluit om die saak opnuut te ondersoek, het Rina soveel moed gehad dat hulle hom sou vind. Dit was baie moeilik om dit te aanvaar toe hulle hom nie kry nie, vertel Desireè; daarom het hulle besluit om haar vir die oomblik nie van die hernude soektog te vertel nie. Sy woon in ’n ouetehuis in Bloemfontein. 

“Dit is alles maar nog baie vars in haar geheue. Sy kan nie daaroor praat sonder om te huil nie. 'n Mens sal net graag wil weet wat met hom gebeur het, want dit is regtig asof hy net ‘woeps’ in die lug op verdwyn het.”