Robyn was ’n tweedejaarstudent in die sosiale wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ons is net oor die dood van haar pa vyf jaar gelede en nou dit. Dit is alles so totaal onverwags,” het Bronwyn Pearce, Robyn se tante, Sondag gesê.

“Dit was alles baie vir die familie die afgelope week met die hantering van die polisie en die tragedie.”

Robyn se lyk is verlede week na Durban geneem en sy is Saterdag ter ruste gelê. Die familie wil vroeg volgende jaar vir Robyn in Stellenbosch ’n gedenkdiens hou.

Intussen het Bronwyn ook die media gekritiseer vir vals beriggewing.

“Ons is gefrustreerd dat die basiese feite nie reg berig word nie,” het Bronwyn gesê.

“Byvoorbeeld, Robyn het haar ma se woonstel in Seepunt besoek en nie ’n vriend se woonstel soos berig is nie.”

“Haar (Robyn) se lyk is op Vrydag, 2 Desember, gevind en nie die Saterdag nie.”

Bronwyn kon nie bykomende inligting oor die moord op Robyn gee nie en het gesê sy hgoop iemand kom binnekort met addisionele inligting na vore.

“Sy kon deur ’n inbreker vermoor gewees het; ons weet eenvoudig nie,” het Bronwyn bygevoeg.

News24 het Sondag berig Robyn is in ’n woonstel in Seepunt doodgesteek. Volgens kapt. Federick van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse Polisie, is niemand nog aangekeer in verband met die voorval nie.

Bron: News24