Al wat vriende en familie van Rudi Kunz (30) nou kan doen, is om te wag dat hy ná ’n rugoperasie wakker word.

Rudi is sedert Saterdag van sy nek af verlam nadat hy in die vlak kant van die Klaseriedam in Limpopo ingeduik het.

Sy boonste rugwerwels het glo geskuif en knyp sy rugstring vas. Hy is eindelik per helikopter geneem na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg, waar hy Dinsdagaand geopereer is.

Volgens vriende is dokters tevrede met die operasie nadat hulle aan Rudi se derde en vierde rugwerwel geopereer het. Rudi, wat verdoof is, word nou stelselmatig wakker gemaak. Daarna sal dokters ’n prognose kan maak en vasstel of die operasie suksesvol was.

Intussen het vriende, familie en ondersteuners hier en in Amerika gisteraand byeengekom om vir Rudi te bid.

Huisgenoot het gister berig Rudi is ernstig beseer nadat hy en ’n groep vriende Saterdag langs die Klaresiedam gaan kampeer het as deel van sy 30ste verjaardagvierings. Hy het van die oewer af in die dam geduik, maar nie besef hoe vlak dit is nie.

Volgens ’n vriendin, Melissa Swan, was Rudi onmiddellik van sy nek af verlam. Hy het op die water gedryf en net sy kop geskud. Rudi se broer, Johan (23), het hom dadelik uit die water gehaal en op die gras neergelê.

Hy kon gelukkig sy asem onder die water ophou en het nie water gesluk nie, vertel Melissa.

“Hy was by sy volle bewussyn en het met ons gepraat nadat hy uit die water gehaal is.

“Ons het die nooddienste gebel en ’n paar van ons het by hom gesit en sy arms en bene gevryf om sy bloedsomloop aan die gang te hou.”

Maar Rudi kon niks voel nie.

“Hy het gesê hy kan niks voel nie en gevra of hy nog in die water is.”

Rudi is per ambulans na ’n hospitaal in Nelspruit geneem. Van daar is hy na Garden City oorgeplaas.