Net ’n maand nadat ’n 14-jarige meisie van Miami in Amerika op Facebook Live haar eie lewe geneem het, gaan die wêreld se gewildste sosiale netwerk optree om te keer dat dit weer gebeur.

[caption id="attachment_161935" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Die sosiale netwerk het verlede jaar die Facebook Live-funksie ingestel waarmee Facebook-gebruikers video’s regstreeks kan uitsaai. Dis so te sê ’n TV-kamera in ’n mens se sak.

Maar toe begin ’n gier onder gebruikers om hul lewe te neem en dit regstreeks uit te saai ten aanskoue van hul Facebook-vriende.

Die maatskappy sê nou hulle gaan selfs strenger stappe doen om lewens te red. Luidens berigte sal gebruikers wat so ’n video regstreeks kyk, die opsie kry om uit te reik na die persoon en ook om die video by Facebook te rapporteer.

Sodra iemand gevaarligte sien flikker en die video by Facebook aanmeld, sal hulle hom of haar ook op ander maniere help, onder meer deur dadelik ’n noodlyn te bel.

Facebook toets ook kunsmatige intelligensie wat inskrywings en kommentaar sal kan monitor om so die waarskuwingstekens raak te sien dat iemand hulself dalk leed wil aandoen of hul lewe wil neem.

Dié ingryping kom nadat ’n rits mense regstreeks op Facebook Live uitgesaai het hoe hulle hul lewe neem.

In Januarie het ’n 14-jarige tienermeisie, Nakia Venant, haarself in haar pleeghuis in Miami opgehang en ’n 33-jarige aspirant-akteur homself in ’n motor in ’n straat in Los Angeles geskiet.

In Oktober verlede jaar het ’n jong Turkse man sy eie lewe geneem nadat hy en sy meisie uitmekaar is. Hy het glo voor hy tot dié drastiese optrede oorgegaan het, gesê: “Niemand het my geglo toe ek sê ek gaan myself doodmaak nie. Sien is glo.”

“Elke 40 sekondes slaag ’n selfdoodpoging iewers ter wêreld. Dit is die tweede grootste oorsaak van sterftes onder 15- tot 29-jariges,” sê Facebook in ’n verklaring. “Kenners sê een van die beste maniere om selfdood te keer, is om die mens in nood te laat hoor daar is mense wat vir hulle omgee.

“Facebook is in ’n unieke posisie – deur vriendskappe op die netwerk - om iemand in die nood te help om in verbinding te tree met mense wat hulle kan ondersteun. Dis deel van ons voortgesette poging om ’n veilige gemeenskap op Facebook en daar buite te bou.”

Facebook het reeds spanne wat 24 uur per dag wêreldwyd werk om gevalle wat by hulle aangemeld word, te hersien. Hulle prioritiseer dié van mense wat moontlik hul eie lewe wil neem.

Hulle voorsien ook reeds mense wat selfdood oorweeg van ondersteuningsopsies en moedig hulle onder meer aan om uit te reik na ’n vriend of vriendin of spoor hulle aan om ’n hulplyn te bel.

BRONNE: INVESTOPEDIA.COM, FORTUNE.COM, MONEY.CNN.COM, VARIETY.COM, USATODAY.COM