Mark Zuckerberg sê die nuwe instrument sal die gebruikers van die sosialemedianetwerk in staat stel om “empatie te betoon” met hul vriende.

Gebruikers van Facebook wys lankal daarop dat die duim-in-die lug-knoppie wat “hou van” aandui, nie geskik is vir sekere statusse nie, soos byvoorbeeld swaar verliese en ander slegte nuus.

"As jy iets deel wat droewig is," het Mark Zuckerberg (31) die stigter van Facebook, Dinsdag erken, “dan voel jy miskien nie gemaklik om van daardie plasing te ‘hou‘ nie.“

Hy het bygevoeg: "Dis belangrik om mense meer opsies as net ‘like’ te gee.”

Maar hy het ook gesê 'n “dislike”-opsie is “verbasend moeilik” om te ontwikkel.

"Ons wil nie van Facebook 'n forum maak waar mense op en af stem oor ander mense se plasings nie,” het hy gesê.

Facebook het jare lank vasgeskop teen die idee van 'n “dislike”-knoppie, uit vrees dat dit geniepsigheid of kwaadwilligheid sou aanwakker.

Volgens die sosiale netwerk word die “like”-knoppie sedert Mei 2013 ongeveer 4,5 biljoen keer per dag gebruik.

Bronne: Fin24 Tech; IGN