Die sosiale netwerk het ’n reënboogkleurige vlag as deel van sy reaksiepaneel gemaak – maar net vir ’n beperkte aantal tyd.

Die Gay Pride-vlag is in 1978 deur Gilbert Baker geskep en kan nou gebruik word om te reageer op alle inskrywings op jou Facebookblad – as ’n manier om vir die res van die wêreld te sê “liefde is liefde”.

“Met Pride-vieringe wat regoor die wêreld afskop, is Facebook trots om ons diverse gemeenskap te vier, insluitend diegene wat hulself op Facebook identifiseer as gay, lesbies, biseksueel, transgender of mense wat nie hulself identifiseer as ’n spesifieke gender nie,” het Alex Schultz, adjunkvoorsitter van Facebook in ’n persverklaring gesê.

"Trouens, meer as 12 miljoen mense in die wêreld is vanjaar deel van een van die 76 000 Facebook-groepe ter ondersteuning van die LGBTQ-gemeenskap, en meer as 1,5 miljoen mense beplan om deel te neem aan een van die meer as 7 500 Pride-geleenthede op Facebook.”

En die nuwe kleurvolle funksie verg nie baie tyd of hope data om die app by te werk nie – al wat jy hoef te doen, is om die like-knoppie te kliek by die LGBTQ@Facebook page, ’n paar minute te wag (sowat twee tot vyf minute) en te verfris. Die vlaggie behoort dan saam met jou ander reaksie-opsies te verskyn. Facebook het ook ander toevoegings onder die Pride-tema, soos rame vir profielfoto’s en filters bekendgestel. 

Dit is onbekend hoe lank die nuwe funksie in die reaksiepaneel sal bly, maar terwyl die helderkleurige vlag daar is, is dit ’n geleentheid om liefde oor alle grense te deel!

Bronne: liverpoolecho.co.uk, bustle.com