Facebook is nes ’n aansteeklike siekte wat ’n hoogtepunt bereik, voor dit begin afneem. So sê navorsers in Amerika wat aanvoer die sosiale netwerk gaan teen 2017 vier uit vyf van sy gebruikers verloor.

Twee doktorale kandidate in meganiese en ruimte-ingenieurswese aan die Universiteit van Princeton het dié verstommende bewerings gemaak in ’n artikel wat aanlyn in ’n wetenskaplike navorsingsargief gepubliseer is. Die artikel moet nog onderwerp word aan portuurevaluering.

Gegrond op die opkoms en afname van MySpace, sê John Cannarella en Joshua Spechler dat Facebook, die grootste aanlyn sosiale netwerk in die geskiedenis, moet regstaan vir ’n reuse afname.

“Idees, soos siektes, versprei aansteeklik tussen mense voor dit eindelik uitsterf, en dit is al suksesvol deur epidemiologiese modelle beskryf,” skryf hulle.

Hulle het ’n gewysigde epidemiologiese model toegepas om die dinamika van gebruiker-aktiwiteit van aanlyn sosiale netwerke te beskryf, deur Google-data te gebruik wat aan enigeen beskikbaar is.

Die sosialenetwerk-reus se medestigter, Mark Zuckerberg, sal dalk ongemaklik voel om dit te lees. Meer as 1,1 biljoen mense wêreldwyd gebruik Facebook, wat aanstaande maand 10 jaar oud word.

Hul studie sê Facebook, wie se aandele vandeesweek ’n nuwe hoogtepunt van R640 bereik het, se dataverbruik neem al sedert 2012 af.

“Facebook sal na verwagting vinnig afneem in die volgende paar jaar, en sal teen Desember 2017 tot ’n vyfde van sy hoogtepunt krimp,” sê die verslag, wat op ArXiv.org geplaas is.

“Deur dié model in die toekoms te ekstrapoleer, wys dit Facebook gaan vinnig agteruitgaan en vier vyfdes van die piek gebruikersbasis tussen 2015 en 2017 verloor.”

Die nuwe navorsing volg op onlangse opnames wat aantoon jong mense gebruik sedert 2013 ál minder Facebook.

Die navorsers sê hulle wil nie kommentaar lewer tot hul manuskrip portuurevaluering voltooi het voor amptelike publikasie nie.

Intussen lyk Facebook se toekoms rooskleurig.

Stygende aandeelpryse het die hoof uitvoerende beampte, Sheryl Sandberg, die nuutste tegno-biljoenêr gemaak, en Zuckerberg (29) se persoonlike rykdom word geskat op R200 biljoen. – Sapa