Dit het tot die onlangse vrystelling ’n boek deur Dennis Brooks gelei waarin die vreemde verhaal van Jenelle Potter vertel word. Die boek “Too Pretty To Live: The Catfishing Murders of East Tennessee” vertel van ’n klein dorpie wie se siel vier jaar gelede uitgeruk is; ’n verpletterde dorpie waar inwoners deesdae hul deure sluit.

Jenelle Potter, die 31-jarige meisie wat deur haar regspan as iemand met die verstand van ’n tienjarige beskryf is, word egter deur ander beskryf as ’n gemene aartsmanipuleerder wat boonop vreeslik venynig ook is.

Sy het die beste van hierdie vaardighede gemaak om haar ouers en ’n vriend op 31 Januarie 2012 in koelbloedige moordenaars te laat ontaard.

jenelle

Maar dis wat die oggend van 31 Januarie voorafgegaan het, klink soos die tema vir ’n spanningsverhaal met ’n bykans-ongelooflike kinkel.

Toe haar pa, Marvin (beter bekend as Buddy) Potter en haar gewese kêrel, Jamie Curd, in Februarie 2012 die hof verskyn het, was daar bloot net die vermoede dat Jenelle betrokke was. Die aanklaer het egter geglo dat sy die gemeenskaplike verbintenis tot die moorde sou wees.

[caption id="attachment_135949" align="aligncenter" width="600"]Jenelle se pa, Buddy, en haar gewese vriend, Jamie (regs). YouTube-skermgreep. Jenelle se pa, Buddy, en haar gewese vriend, Jamie (regs). YouTube-skermgreep.[/caption]

Sy was immers die vorige jaar betrokke by ’n teisteringsaak waartydens die vermoorde paartjie teen haar getuig het.

Dit het oor onder meer telefoon- en Facebookboodskappe gegaan en Jenelle het beweer die paartjie en hul vriende is kuberboelies.

Die paartjie was Billy Payne en sy verloofde, Billie-Jean Hayworth. Hulle het ook ’n babaseuntjie genaamd Tyler (7 maande oud) gehad.

Billy (37) en Jenelle het in 2009 vriende geraak. Hy was bekend as ’n aangename ou wat altyd tyd vir ander gehad het. Vir Jenelle in isolasie wat met streng en oordonderende ouers grootgeword het, was hierdie waarskynlik ’n ongelooflike en bevrydende ervaring.

Sy was 2 m lank, het diabetes gehad en was in ’n geringe mate leergestremd. Dit was ook vreemd dat die lang meisie ’n baie kinderlike stemmetjie gehad het. Sy het nog nooit die huis verlaat nie. Tot in daardie stadium was haar beste “vriend” die internet.

Haar ander vriende vind jy in haar kamer: tientalle opgstopte speelgoed.

jenelle kamer

Haar lewe was propvol reëls. Sy mag nie ná middernag eers huistoe kom nie, sy mag nie rook, drink of partytjie hou nie. Asof dit nie genoeg was nie, het haar ouers boonop haar Facebook-blad gemonitor.

Toe ontmoet sy vir Tracy Greenwell wat by die plaaslike apteek gewerk het. Tracey het haar oor die alleenloper ontferm en kort voor lank was daar regte mensvriende in haar lewe.

[caption id="attachment_135951" align="aligncenter" width="600"]Tracy Greenwell, die persoon wat die hand van vriendskap na Jenelle uitgesteek het. Foto: YouTube-skermgreep. Tracy Greenwell, die persoon wat die hand van vriendskap na Jenelle uitgesteek het. Foto: YouTube-skermgreep.[/caption]

Soos Tracy se broer, Billy.

Van kêrels was daar tot en met Billy se teenwoordigheid geen sprake nie. Nie dat sy en Billy in ’n verhouding was nie, maar daar word vermoed dat sy ’n obsessie oor die aangename man ontwikkel het. Dit sou juis Billy se suster wees wat haar aan hul neef, Jamie Curd sou voorstel.

Kort voor lank was Jenelle en Jamie in die geheim in ’n verhouding betrokke. Jamie gee vir haar ’n selfoon sonder haar ouers se medewete en die twee praat gemiddeld een tot twee uur daagliks met mekaar.

[caption id="attachment_135947" align="aligncenter" width="600"]Jamie en Jenelle het in die geheim 'n verhouding gehad. Foto: YouTube-skermgreep. Jamie en Jenelle het in die geheim 'n verhouding gehad. Foto: YouTube-skermgreep.[/caption]

Maar toe Billy en Billie-Jean se romanse afskop, het sake drasties verander. Jenelle beweer dat sy deur kuberboelies geteister word en lê die blaam viervoet voor Billie-Jean se deur. Sy maak na bewering ook inskrywings op Facebook waarin sy sê sy wens dat Billie-Jean en die dekselse babatjie sal sterf.

[caption id="attachment_135952" align="aligncenter" width="600"]Billy en Billie_Jean. Billy en Billie_Jean.[/caption]

Dit lei tot ’n stortvloed van beledigings wat heen-en-weer op Facebook geslinger word. Sommige anoniem. Maar almal nare beskuldigings.

Nog ’n kinkel het opgeduik. In die vorm van ene “Chris” van die CIA, die Amerikaanse Intelligensiediens. Dieselfde Chris wat voorgee hy’s ’n ou skoolmaat van Jenelle. Hy stuur e-posse, onder meer aan Jenelle se ma. Hy deel selfs foto’s van sy lewe, vertel hy’s ’n wewenaar en dat hy gek is oor honde.

Barbara is so oortuig dat hierdie Chris ’n goeie mens is. Sy begin hom “seun” noem. Hy teken sy e-posse aan haar af deur haar “Ma” te noem.

[caption id="attachment_135950" align="aligncenter" width="600"]Barbara Potter, Jenelle se ma. Foto: YouTube-skermgreep. Barbara Potter, Jenelle se ma. Foto: YouTube-skermgreep.[/caption]

Chris skryf aan Barbara dat Billy en Billie-Jean die verpersoonliking van boosheid is. Hy was glo ’n dwelmhandelaar, sy verloofde ’n slegte vrou. Hulle sou vir Jenelle wou verkrag omdat sy ’n maagd is. O ja, en hulle sou ook haar kop wou afsny.

Dit was meer as genoeg om Barbara, Buddy en Jamie koppe bymekaar te laat sit en te besluit om ’n einde te maak aan die twee mense wat hul dogter se lewe bedreig.

Buddy, ’n gewese soldaat wat in Viëtnam diens gedoen het en geskimp het dat hy ’n CIA-verlede het, het die oggend van 31 Januarie 2012 die huis van Billy en Billie-Jean binnegegaan.

Billy is in die kop geskiet en sy keel afgesny. Billy-Jean is ook in die kop geskiet, maar wat die koelbloedige moord erger maak, is dat sy steeds hul babatjie in haar arms gekoester het ten tye van haar dood. Hy het genadiglik heelhuids ontkom.

Die ingangsbordjie by Mountain City, Tenessee met sy sowat 2 500 inwoners vertel jou van meet af aan dat dit ’n vriendelike dorpie is. Die inwoners was verpletter toe die nuus van ’n koelbloedige dubbele moord in hul gemeenskap breek.

[caption id="attachment_135946" align="aligncenter" width="600"]Mountain City verwelkom mense by hul vriendelike dorp. Mountain City verwelkom mense by hul vriendelike dorp.[/caption] Talle wou nie glo dat Buddy dit kon doen nie. Maar ses uur nadat Jamie Curd in hegtenis geneem is, laat die polisie hom Buddy bel en sy bekentenis op band opgeneem. Tydens ’n onderhoud met ABC News in 2015 beskryf Jenelle se ma, Barbara, haar as ’n “goeie, dierbare mens wat nie kwaadwillig is nie, maar naïef, jonk en onskuldig”. Maar hoe onskuldig is sy werklik? Die honderde e-posse wat deur die polisie op die Potters se rekenaar ontsyfer het, wys duidelik dat “Chris” se e-posse van presies dieselfde internet-protokoladres gestuur is as al Jenelle se e-posse.

Nog ’n vreemde toeval is dat Chris dieselfde spelfoute as Jenelle sou maak tydens die briefwisseling. Selfs hul skryfstyl het ooreengestem.

Die staatsaanklaer Dennis Brooks glo dat sosiale media Jenelle in staat gestel het om iemand te wees wie sy nie was nie. “Sy het Chris uitgedink. Sy kon ’n ander identiteit aanneem en so haatlik wees as wat sy wou.”

Cristine Groover, Jenelle se suster, glo ook dat dit wel binne haar suster se vermoëns was om die moord te beplan.

Jenelle en haar ma word in Augustus 2013 vir die moord op Billy en Billy-Jean in hegtenis geneem.

In Oktober 2013 is haar pa skuldig bevind aan moord. Hy dien tans twee lewenslange vonnisse uit.

Jamie Curd het ’n pleitooreenkoms aangegaan en sal altesaam 25 jaar in die tronk deurbring.

Na slegs sewe dae in die hof in 2015 het die jurie Jenelle en Barbara skuldig bevind aan moord in die erste graad.

Hulle word beide lewenslange gevangenisstraf toegedien. Beide ontken dat hulle iets met die moorde te doene gehad het. Jenelle ontken ook dat sy Chris is.

Billy en Billie-Jean se seuntjie word deur sy familie grootgemaak. Hy sal nooit die vrou onthou wat hom tot in haar laaste oomblikke in haar arms gekoester het nie.

Bronne: abcnews.com, thesun.co.uk, crimefeed.com, io9.gizmodo.com, news.com.au