Dit lyk asof die tyd uitloop vir selfoongebruikers van Facebook wat nog nie die Facebook Messenger-app gebruik nie.

Tot dusver kon mense wat die Facebook-app gebruik nog soos voorheen boodskappe stuur sonder dat hulle die Messenger-app afgelaai het, maar ’n Facebook-woordvoerder het die afgelope week gesê dis aan die verander.

As jy die Facebook-app op jou iPhone of Android-foon gebruik, gaan jy binnekort die Messenger-app moet aflaai voor jy ’n boodskap na ’n Facebook-vriend kan stuur.

Dit krap baie gebruikers om, maar Facebook hou vol die verandering strek tot gebruikers se voordeel omdat dit ’n vinniger en betroubaarder boodskapdiens is.

Dis goed en wel, maar kyk ’n bietjie na van die voorwaardes waartoe jy moet instem wanneer jy die Messenger-app aflaai.

Jy gee die app onder meer toestemming om:

  •  Telefoonnommers te bel en SMS-boodskappe te stuur.
  • Enige tyd klankgrepe op te neem en foto’s of video’s te neem.
  • Toegang tot jou kamera te kry.
  • Jou selfoon se oproepinligting te lees.
  • Toegang te kry tot die foon se eienskappe, soos jou telefoonnommer en die toestel se ID.

Maar ’n artikel in die Washington Post wys gebruikers daarop dat daar redes is vir dié voorwaardes. “Messenger kort byvoorbeeld toegang tot jou kamera sodat jy foto’s kan stuur, en min mense sal elke keer mikrofoontoegang wil bevestig wanneer hulle die app wil gebruik om te bel.”

Die skrywer Caitlin Dewey wys voorts daarop dat hierdie oorkoepelende soort voorwaardes baie algemeen is; meer as wat die meeste mense dalk besef. Baie apps vra toegang tot jou data wanneer jy dit aflaai.

Die feit bly staan: As ’n mens wil aanhou om Facebook-boodskappe van jou slimfoon af te stuur, is die aanvaarding van dié voorwaardes jou voorland.

Bronne: Washingtonpost.com, huffingtonpost.com, mashable.com