Meer as 4 750 mense hou daarvan, amper 650 het kommentaar daarop gelewer en meer as 500 mense het dit gedeel.

Sy vertel onder meer hoe haar seuns haar laat besef het hoe lief die Here haar het, hoe hulle haar lewe verander en aangevul het en hoe hulle nog nie die seuntjies op die mond mag soen nie omdat hulle immuunstelsel nog nie sterk genoeg is nie.

Hiermee ’n uittreksel uit haar inskrywing:

“Hier gaan ek weer, my 5de probleemslag om te begin skryf aan 'n nuusbrief vir julle…. Tweeling grootmaak wys mens hoe tyd vlieg,” het sy begin.

Dan sê sy:

“Die mees amazingste ding naas Verlossing het met my gebeur op 19 Desember 2013!!! 2 pragtige baba seuntjies is vir my geleen om groot te maak in God se wil.

“Nog nooit het ek so baie gehuil, gelag, in verwondering gewees, min geslaap, lief ge-hê of so baie van God gesien nie. Ek kan nie dink dat ek ooit 'n lewe sonder Eliah en Daniel al gehad het nie.

“ 'n Lewe met baie meer slaap, selfsugtig wees, dink jy verstaan wat is liefde, oppak en net ry, tv kyk soos dit jou pas, uiteet as jy so voel, en 'n fliek gaan sien. Daai is nou in die verlede en as ek kan kies sal ek dit elke dag vir die res van lewe weer kies.

“Hulle is afhanklik, so broos, so perfek, so onskuldig, so klein, en daar begin ek iets verstaan van hoe God my regtig sien, hoe lief Hy my regtig het, en dan is dit nog nie eers naastenby soveel nie, onvoorwaardelike liefde…

“Liefde wat jou sal laat voel soos die rykste mens wat al geleef het en liefde wat jou bitter seer kan maak. Nog nooit was ek so oop, sonder 'n bulletproof vest, sonder hoë mure, op my broosste. My hart lê elke dag in my arms en bekyk my met splinternuwe oë, dieper en verder in my wese as wat ek al ooit kon sien.

“Vat aan my met handjies so klein maar met so stewige greep wat my laat weet hierdie is hoe weerloosheid en onskuld voel en lyk. En ek besef vir die eerste keer dis God. God wat sê moet die kinders nie verhinder nie bring hulle na my toe, want aan hulle behoort die koningryk.

“Ek wag nog steeds om my seuns op die mond te kan soen, omdat hulle so klein is moet ons heeltyd ons hande was voor ons aan hulle vat en daai oopmond soene is eers veilig van 40 weke af wanneer babas eintlik gebore word en hulle immuun stelsels biki sterker is…

“Ek dink dis hoe erg dit vir God moet wees om te wag vir sy kinders om na Hom toe te kom. Hy wag oop arms vir die 40 weke, daai ontmoeting, daai soen op Sy mond wat jou as Syne verklaar, dis 'n afwagting wat jy al oor gedroom het lank voor hulle geboorte, en God lank voor die grondlegging van die wêreld.

“Dis 'n smag na vervuld wees, woorde sal dit nie kan beskryf nie en verstand sal dit nie verstaan nie, maar wag sal jy wag, soos God wag vir jou, want niks sal ooit daai oomblik kan oortref nie.

“Ma wees laat my iets van God sien en verstaan wat ek nooit van tevore het nie, ek bid dit vir elke vrou wat God weet Hy kan vertrou met Sy geliefde seuns en dogters. Tyd is kosbaar. Ek bid elke dag dat God my sal wys hoe Hy Eliah en Daniel wil grootmaak dat hulle in hulle roepings op aarde sal loop en God hulle skuiling sal wees.

“Intussen begin ek biki [sic[ liedjies skryf en dink aan hoe my eerste show in Junie gaan lyk vir die jaar vorentoe… Ek sien baie uit om julle almal weer by die shows te sien! Dankie vir julle liefde en ondersteuning en dat julle vir my en my gesin bid. Die waarde van julle gebede en liefde kan nie gemeet word nie. Dankie, ek lief julle.

“Moet nou weer gaan bottels regkry… Praat weer..

Karlien xxx”