“Geseënde Kersfees en gelukkige Chanoeka (die Joodse Fees van die Tempelwyding) van my, Priscilla (sy vrou), Max (eenjarige dogter) en Beast (’n Hongaarse skaaphond wat soos ’n mop lyk)!”

Dit was ’n boodskap op Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, op Kersdag, wat steeds baie reaksie ontlok. Meer as 27 000 gebruikers het al daarop gereageer:

Ene José Antonio het soos talle ander gevra: “Maar is jy nie ’n ateïs nie?”

Waarop hy antwoord het – uit die perd se bek uit: “Nee. Ek is Joods grootgemaak en toe het ek deur ’n tydperk gegaan waar ek dinge bevraagteken het, maar nou glo ek godsdiens is baie belangrik.”

Hy het intussen die status wat lui “ateïs” van sy Facebook-profiel verwyder.

Hierdie keerpunt in sy siening oor geloof was in die jaar toe hy en sy vrou pous Franciscus, gebore Jorge Mario Bergoglio, ontmoet het in die Vatikaanstad.

“Ons het vir hom vertel hoe baie ons sy boodskap van genade en medemenslikheid bewonder en hoe hy nuwe maniere gevind het om met mense van elke geloof wêreldwyd te kommunikeer.”

Mark het ’n hommeltuig aan die hoof van die Katolieke Kerk oorhandig.

Die afgelope jaar het hy ook ’n foto op sy Facebook-blad gedeel van waar hy bid by die Boeddhistiese Reusewilde-eend-pagodetempel in Xian, China. Sy vrou, Priscilla Chan, is ’n praktiserende Boeddhis en het hom gevra om saam met haar daar te aanbid.

Mark het in die inskrywing by die foto hierdie geloofsrigting geprys: “Boeddhisme is ’n wonderlike godsdiens en filosofie en ek het die afgelope tyd ál meer daaroor geleer. Ek hoop om dit ál dieper te leer ken.”

Bronne: nbcnews.com, facebook.com, telegraph.co.uk