Toe die 35-jarige jaer op 1 September by Monza sy uittrede uit Formule 1-renne aan die einde van die huidige seisoen aankondig, kon hy nie sy trane keer nie.
Maar waar het Felipe se liefde vir spoed begin? Hy was ’n tjokkertjie van agt toe hy agter die stuur van renstelle inskuif. Vir die volgende sewe jaar sou hy op streek- en nasionale vlak naam maak. Sy toetrede tot die Formule 1-arena het in 2002 met Sauber begin.
Felipe was in 2003 ’n toetsbestuurder vir Scuderia Ferrari voor hy weer terug is na Sauber vir die seisoen van 2004/’05. Dit sê baie van hom dat selfs Scuderia Ferrari, vir wie hy van 2006 tot 2013 gejaag het, hom die beste vir die toekoms toewens.
Dit was ook onder die vaandel van Scuderi Ferrari dat hy die eerste Brasiliaan in 13 jaar geword het wat as wenner op die podium gestaan het. Sy landgenoot Ayrton Senna het dit in 1993 laas gedoen.

“Die grootste vreugde in my lewe was my oorwinning in die Brasiliaanse Grand Prix (in 2006). Om in São Paulo, my tuisdorp, te wen, was ’n unieke emosionele oomblik,” het hy daardie hoogtepunt beskryf.

Maar Felipe se adrenaliengevulde loopbaan op die renbaan was met voorspoed en teenspoed besaai.

“Ek het baie renne vir Ferrari gewen en dikwels op die podium verskyn. Ek het ook vir die wêreldkampioenskap baklei.” Maar ’n skrale punt het hom van daardie kroon beroof.

Dit was in 2008, weer in Brasilië. Felipe en sy pa was oortuig daarvan hy het gewen. Maar Lewis Hamilton het in die finale rondte daarin geslaag om vir Timo Glock verby te steek. Hy het daardie een punt gekry wat hom voor Felipe geplaas het – en hy het wêreldkampioen geword.

In sommige kringe word na Felipe in daardie seisoen as die “30-sekonde-kampioen” verwys.

Felipe is waarskynlik een van die ongelukkigste en terselfdertyd gelukkigste F1-jaers. Ongelukkig omdat hy, ten spyte van 11 Grand Prix-oorwinnings en konstante goeie prestasie, nooit die kampioenskap kon verower nie.

Gelukkig het hy ondanks verskeie ongelukke op die baan, steeds die klein mannetjie met die groot hart gebly.

Daar was “crashgate” tydens die Singapoer-byeenkoms in 2008.

Een van die merkwaardigste noue ontkomings tot nog toe was die Hongaarse Grand Prix in 2009. Dit word as een van die mees bisarre ongelukke ooit op ’n renbaan bestempel.

’n Deel van die veringstelsel van een van die ander renmotors, dié van Rubens Barrichello, het losgewoel en Felipe teen die kop getref.

Hy het ’n gekraakte skedel opgedoen en daar is vir sy lewe gevrees. Felipe is egter ’n taai kêrel en het met ’n staalplaat in sy kop van die besering herstel.

In 2013 het sake weer lelik skeefgeloop vir die gesoute renjaer tydens ’n oefenrondte vir die Grand Prix in Monaco. As ’n mens in stadige aksie na die beeldmateriaal kyk, lyk dit asof daar geen verbinding tussen die stuur en die voorwiele is nie.

Die jaar 2014 het net soveel teenspoed gebring. Tydens ’n oefenrondte in Junie in Kanada het toeskouers net gesien hoe stof en motoronderdele spat.

Tydens die Duitse Grand Prix in Julie in Hockenheim het sake ook vroeg-vroeg skeefgeloop, maar gelukkig het Felipe oënskynlik ongedeerd op eie houtjie uit die wrak geklim.

Ten spyte van al sy teenspoed op die baan, het Felipe nie bes gegee nie. Maar sy besluit om uit te tree, en dit by Monza, was vir hom ’n goed deurdagte een. “Tien jaar gelede in Monza het ’n renjaer aangekondig hy gaan ook die baan verlaat – en hy het meer as enige ander ’n invloed op my loopbaan gehad: Michael Schumacher,” het hy gesê. Felipe het ook aangedui dat hy steeds sy fokus gaan hou op die oorblywende agt renne en daar nie tyd gaan wees om soos ’n pensioentrekker terug te sit nie. “Williams Martini Racing veg vir vierde plek, en ek gaan my bes doen om daardie doelwit saam met die span te bereik.” Terwyl Felipe se aanhangers die jaer se uittrede as ’n groot skok ervaar, geniet hy steun vir sy besluit by ander jaers.

Williams Martini Racing, die groep vir wie Felipe van 2014 gejaag het, het hierdie huldeblyk aan die gewilde jaer gebring.

Bronne: motorsport.com, bbc.com, skysports.com, wikipedia.com