Andries (44) het as’t ware heeltemal uit die openbare oog verdwyn, maar Vrydag het hy op sy Facebook-blad die omslag van sy boek Gee God 52 Weke gedeel.

Hy beskryf dié nuwe boek as ’n praktiese Bybeldagboek wat beloof om mense te help om alles in hul lewe – van hul huwelik, kinders, finansies en vrese tot hul drome – elke dag met meer krag, moed en geloof aan te pak.

Die Alberton LewenSentrum se bestuursraad en ’n komitee van bekommerde senior lidmate het Andries in Oktober 2015 met drie maande verpligte verlof gestuur. Die predikant was moeg en uitgebrand.

Aan die begin van die jaar het Huisgenoot berig dit is steeds nie dieselfde sterk, selfversekerde pastoor wat op die preekstoel staan nie.

Toe Andries in Januarie vanjaar ná ’n emosionele ineenstorting tydens sy langverlof na sy gemeente terugkeer, was hy nog huilerig. Maar hy het toe al onderneem om meer gereeld vakansie te neem en tyd by sy gesin deur te bring.

Hy het in daardie eerste diens van die jaar erken hy het breekpunt bereik toe hy en sy jongste seun, De Guisti (6) in ’n ernstige ongeluk met sy bakkie was.

Dié jaar was hy nog “te broos” en “te seer” om uitvoerig oor sy ontberings te praat.

Andries het wel aan Huisgenoot gesê wanneer hy gereed is, sal hy praat oor sy reis en oor hoe van sy grootste vrese hom in die gesig gestaar het.

Een ding is duidelik: Die skrywer van die topverkoper Die Woord Elke Dag kon dit weer in homself vind om sy pen op te tel en mense te bemoedig soos die predikant vir wie Suid-Afrikaners so lief geraak het.