“Evah, Mamma mis jou nog elke dag. Jy sal vir altyd my dogtertjie wees. Ek sien uit om jou eendag weer te sien, my Pop.

“Lief vir jou met my hele hart,

Mamma”

So skryf die sangeres Karlien van Jaarsveld op haar Facebook-blad om ander vroue te bemoedig wat ook babas weens ’n miskraam verloor het.

Volgens Karlien het sy dieselfde boodskap twee jaar gelede gedeel. Haar en haar eksman, Derick Hougaard, se babadogtertjie, Evah, is op 15 Januarie 2015 op 19 weke doodgebore.

“Dit voel soos ’n fliek,” het sy destyds gesê. “Ons is almal in trane. Die dokter het my kom sien en alles verduidelik, maar dit klink onwerklik.”

Nou deel die sangeres weer haar bemoedigende woorde. “Ek is jammer vir jou wat al ’n kind verloor het,” begin sy.

“Ek wou my dogtertjie nie laat gaan nie. Ek het aanhou sê hulle moet nog bloed trek en toets, maar die infeksie het bly vererger en my lewe was in gevaar . . . Ek het gevra dat ons ’n sonar doen. Evah het net kleiner geword en daar was nie meer een deel water oor waarin sy kon oorleef nie . . . My dokter het gesê sy sal in elk geval nie oorleef nie, want die infeksie is in haar hele lyfie, en nou is daar ’n kans om haar, my baarmoeder en my lewe te verloor . . . Ek moes kraam,” lui haar roerende skrywe.

“Ek moes die besluit maak en sê ek verstaan. Ek moes die groot horlosie teen die muur dophou tot my dogtertjie gebore word. Tyd was nog nooit so tydsaam nie, en hartseer was nog nooit so onbeskryflik groot nie. Ek het in my slaap gekraam nog voor my tweede dosis medikasie.”

’n Gebroke Karlien meen enige vrou wat deur so ’n traumatiese ervaring is, mag rou.

“Ek mag rou. Jy mag rou. Jy moet saam jou man rou. Of dit 'n miskraam was ná ’n week van swangerskap of ná vyf maande of by geboorte. Elkeen se seer is sy eie. Huil soveel jy wil en praat soveel daaroor soos jy wil, maar rus in die wete dat God die Skepper is, dat Hy in beheer is en dat Hy met jou wil deel oor jou hartseer.”

Karlien het ook onlangs in haar nuwe realiteitsprogram Bobby en Karlien: In Jou Skoene op VIA (DStv-kanaal 147) haar hart oopgemaak oor haar miskraam en vertel hoe sy van die hospitaal af gekom het en niemand wou sien nie.

“Ek het by die huis gekom van die hospitaal af. Ek wou niemand gesien het nie. Ek het een Facebook-ding geskryf, want mense sou wou weet hoekom is ek nie meer swanger nie.”

Die sangeres en Derick is kort daarna uitmekaar.

Lees Karlien se volledige skrywe hier.