Die aktrise, wie se loopbaan haar miljoene dollar in die sak gebring het, vertel ook sy het nog nooit kontant in die bank nodig gehad om gelukkig te wees nie.

In ’n onderhoud met MujerHoy.com het die Desperate Housewives-ster gesê: “Geld is nie alles nie. Ek was ook gelukkig toe ek in ’n k** woonstel in Hollywood gewoon het. Ek is geneig om gelukkig te wees; dis in my DNS. Ek is ’n onvoorwaardelik optimistiese persoon, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Dis een van die redes waarom ek liefdadigheid so ernstig opneem.”

Eva is bekend vir haar liefdadigheidswerk en het die Eva Longoria-stigting begin, wat gestremde vroue en kinders wêreldwyd help.

Eva (38) sê dis danksy haar “nuuskierige geaardheid” dat sy by sulke inisiatiewe betrokke raak. “Ek is van nature nuuskierig, energiek en ambisieus. Ambisie bring dikwels baie meer sukses as talent of intelligensie.”

Eva was al twee keer getroud; sy en die General Hospital-ster Tyler Christopher is in 2004 geskei en haar verhouding met die Franse basketbalspeler Tony Parker het in 2011 gevou.

Sy gaan tans uit met Ernesto Arguello van die uitgaanprogram Ready for Love, wat Eva vervaardig het.

Op ’n vraag of sy nou liefde gevind het, het Eva gesê: “Dis die groot vraag! Kan vroue alles hê? Ek hoop so. Ek het nie kinders nie, maar dit beteken nie dat ek nooit sal hê nie. Ek plaas nie druk op myself nie. As iemand homself beperk, is hy verlore. Ek het groot drome en is oop vir enige moontlikhede.”