Eva Longoria en Ricardo A. Chavira, haar man in Desperate Housewives, gaan saamwerk aan Welcome To The Family.

Eva (38) sal volgens Deadline ’n gasster wees in ’n komende episode van die NBC-komedie, waarin Ricardo, wat Carlos was in Desperate Housewives, verskyn.

Eva het verklap Ricardo (41) het haar self gevra om ’n gasster te wees en dat sy “baie opgewonde is om weer saam met hom te werk”.

Eva sal die rol vertolk van mev. Nunez, ’n Engels-onderwyseres wat ’n romantiese verhouding met haar een leerder se pa gehad het voor hy getroud is.

Eva is benewens haar toneelspel ook bekend vir haar liefdadigheidswerk en het The Eva Longoria Foundation begin, wat hom daarop toespits om gestremde kinders en vroue te help.

Eva, wie se ouers Meksikaans-Amerikaans is, sê dis danksy haar “nuuskierige” geaardheid dat sy by goeie werke betrokke raak.

Sy het gesê: “Ek is van nature nuuskierig, energiek en ambisieus. Ambisie lei dikwels tot meer sukses as talent of intelligensie.”

Eva was twee keer getroud: eers met die General Hospital-ster Tyler Christopher (38), van wie sy in 2004 geskei is, en toe met die Franse basketbalspeler Tony Parker (31). Hul huwelik het in 2010 op die rotse geloop.