is vroegskemer toe Martie Terre’Blanche vir die eerste keer onrustig begin voel. Sy bel haar man van die afgelope 43 jaar vir die soveelste keer op sy selfoon, maar hy antwoord nie. Die lyn is óf beset óf die telefoon lui net. En toe sy weer bel, skakel dit oor na stempos...

Dit maak nie sin nie – dit begin al donker word en haar man, die omstrede leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging, Eugène Terre’Blanche, het dan belowe hy sal huis toe kom vir aandete saam met haar en hul enigste kind, die 29-jarige Bea.

Eugène (69) het vroegoggend dié Saterdag van die gesin se huis op Ventersdorp in Noordwes vertrek om ’n draai op sy plaas, Witrandjiesfontein, te maak en Martie het hom oudergewoonte gevra of sy vir hom ’n stukkie vleis kan inpak sodat hy dit vir ete kan gaarmaak.

Maar Eugène het gesê dis nie nodig nie – hy sal dié keer net ’n paar uur vertoef tussen die 100 beeste en sowat 30 perde op die lappie grond wat hy jare gelede by sy pa geërf het.

Haar gryskopman het sy Duitse herdershond, Santana, vandag nie eens soos gewoonlik saamgevat plaas toe nie. Die hond het Eugène nog altyd soos ’n skaduwee gevolg en selfs aan die voetenent van sy baas se bed geslaap, maar dié keer sou dit mos net ’n heen-en-weertjie wees.

Die ure rol verby. En dan lui Martie se telefoon: ’n Joernalis van ’n radiostasie wil by Martie hoor of dit waar is dat Eugène op sy plaas vermoor is.

Sy is sprakeloos, totaal oorbluf. Dit kan mos nie wees nie; sy weet dan van niks. Maar dan kom klop ds. Armand van Zyl van die Afrikaanse Protestantse Kerk aan die deur met die nuus: Eugène is omstreeks vyfuur op sy plaas aangeval waar hy in die slaapkamer gerus het.

Dit blyk haar man, wat die afgelope ruk kort-kort gekla het sy bors pyn en hy is moeg nadat hy ’n paar weke tevore ’n operasie vir sy hartkwaal moes ondergaan, was te moeg om ná sy dagtakies die sowat 15 km terug dorp toe af te lê. Hy het vir ’n rukkie gaan rus, en sy moordenaars het deur sy slaapkamervenster ingeklim.

Sy bebloede, verminkte lyk, met sy geslagsdele ontbloot, is pas in sy karig gemeubileerde, deurmekaar plaashuisie gevind, en die moordenaars het die panga waarmee hulle sy gesig vermorsel het, op sy borskas gelos voor hulle op die vlug geslaan het...

Lees die volledige artikel in die uitgawe van 15 April.

Ons het ook ’n artikel waar ons met die inwoners van Ventersdorp gesels, terwyl Dana Snyman ook ’n huldeblyk oor “oom Gene”lewer.

Bespreek vir Skouspel!