? Nuttelose oefening. Dit is wat Eugene de Kock die misdade noem wat hy as werktuig van die destydse apartheidsregering gepleeg het en waarvoor hy intussen tot twee keer lewenslange tronkstraf en daarby nog 212 jaar agter die tralies gevonnis is.

Hy is immers op nie minder nie as 89 aanklagte skuldig bevind, onder meer dat hy ses moorde gepleeg het. “Ons het hul families se lewens vernietig en hul lewe onherroeplik verander . . . ons het mekaar vernietig en niks daardeur bereik nie,” het hy destyds voor die WVK gesê.

Dit was nuwe klanke uit die mond van die mees berugte veiligheidspolisieman van die apartheidsera, ’n man wie se eie makkers hom Prime Evil gedoop het. Nie almal het dié klanke vertrou nie.

En nou is daar ’n reuse herrie oor sprake dat hy vrygelaat gaan word; kwytskelding van pres. Jacob Zuma gaan kry – dalk ’n gebaar jeens Afrikaanssprekendes as vergoeding vir kwytskelding wat glo ook aan die president se ou makker die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik gegee gaan word.

Eugene en sy trawante van die veiligheidspolisie se berugte moordkamp, Vlakplaas, het destyds nie geskroom om wreed en gewetenloos te moor en martel nie. Mense is na buurlande ontvoer en met plofstof in stukke geskiet. Dat dié man dalk binnekort vry kan uitstap, is vir baie ondenkbaar.

Wat op Vlakplaas gebeur het, klink soos iets uit ’n grilprent. In die boek A Long Night’s Damage, soos vertel aan die veteraan-joernalis Jeremy Gordin, het Eugene vertel sy pa het ’n gematigde benadering tot swart mense gehad. “Hy het gesê hoewel daar kulturele verskille tussen swart en wit rasse is, is swart mense ook mense en dat daar, soos die geval met wit mense, goeies en slegtes is.”

In Mamelodi-Wes, Pretoria, soek Lizzy Sefolo (68), weduwee van Harold Sefolo, steeds berusting. “My man is dood en niemand kan hom terugbring nie – hulle kan hom maar vrylaat; dit maak geen verskil nie. Maar dan moet hy oor alles bieg wat hy nog vir homself gehou het. Miskien sal dit ons wat agtergebly het, help.”

Lees meer hieroor in Huisgenoot van 4 Februarie.

Wat dink jy? Moet Eugene de Kock vrygelaat word of nie?