DIT voel effe vreemd om ’n onderhoud met jou hoofredakteur te voer. En nie sommer enige hoofredakteur nie, want Esmaré Weideman het pas gehoor sy is bevorder tot een van die hoogste poste in die mediabedryf in die land.

Voortaan gaan Huisgenoot, YOU en Drum se “ma” van die afgelope dekade ook verantwoordelik wees vir die tientalle tydskrifte en koerante in die uitgebreide Media-24 stal, hul boeke, drukkerye en verspreidingstelsels.

As uitvoerende hoof sal sy een van die invloedrykste mense op die nasionale joernalistieke toneel wees, as’t ware die kaptein wat die Suid-Afrikaanse media-skip oor onstuimige waters moet stuur. Geen vrou op die plaaslike toneel was al ooit in so ’n senior posisie nie.

Dis ongewone vinnige vordering, maar vir mense wat haar ken, was haar aanstelling as grootbaas van Media24 geen verrassing nie. Sy’s ’n joernalis in murg en been, ’n self-erkende “nuushond” en een van die mees bekwame en toegewyde mediamense in die land.

Net soos Huisgenoot se lesers wat Esmaré goed genoeg leer ken het om saam met haar te lag en te huil, voel dit vir haar mense by Huisgenoot en sy sustertydskrifte in Kaapstad ook of hulle van ’n familielid afskeid neem.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 5 Mei 2011