“Eskom gaan alle nodige noodhulpbronne tot sy beskikking gebruik, maar as die vraag na elektrisiteit nie verminder nie, gaan beurtkrag ingestel word om die kragstelsel van ’n algehele afsluiting te beskerm,” het hulle Donderdag gesê.

Die semi-staatsinstelling het gesê vrywillige kragbesparing van minstens 10 persent is nodig om die aanvraag te bestuur. Die kragstelsel is onder druk as gevolg van party opwekkingseenhede wat onbeskikbaar is en omdat verbruik in die wintermaande hoër is.

“Ons vorder volgens plan wat ons onderhoudsrooster betref en het dit begin afskaal om vir die winter voor te berei, terwyl ons ook onbeplande kragonderbrekings bestuur wat druk plaas op ’n stelsel wat reeds onder druk is.”

Elektrisiteitsverbruikers is sterk aangeraai om elektrisiteit spaarsaam te gebruik en alle nie-noodsaaklike toestelle af te skakel.

“Eskom doen al die beskikbare, nodige stappe om die ligte aan te hou, maar ons het ons klante se hulp nodig om te verseker dat elektrisiteitsverbruik af neem,” het hulle gesê.

Beurtkragroosters sal indien nodig deur Eskom se webtuiste, munisipaliteite, mediaplatforms en die inbelsentrum aan verbruikers beskikbaar gestel word.

- Sapa