Eskom het Donderdagoggend omstreeks 06:00 'n noodsituasie afgekondig en gesê beurtkrag is onafwendbaar en is van 09:00 van toepassing.

Die rede vir die aankondiging is weens die aanhoudende reën die afgelope week in Mpumalanga en die feit dat opgebergde steenkool nat geword het.

“In hierdie stadium kan ons net 29 000MW se krag opwek. Dit is heeltemal te min en daarom het Eskom geen ander keuse nie as om beurtkrag in te stel,” het ’n Eskom-woordvoerder gesê.

Hy het gesê die vooruitsigte vir Donderdag en Vrydag lyk nie goed nie omdat nog reën voorspel word.

Al tien Eskom se steenkoolkragstasies in Mpumalanga word deur dié krisis geraak.

Eskom se gebeurlikheidsplanne kan gewoonlik voorkom dat steenkool nat word, maar weens die aanhoudende reën het dit hierdie keer nie gewerk nie.

Vir roosters om vas te stel waar en wanneer beurtkrag ingestel gaan word, besoek http://loadshedding.eskom.co.za/ of bel 086 0037 566